
WhatsApp het ’n skerp toename gesien in dataverkeer tydens die staat van inperking. Foto: Unsplash
Terwyl sommige sosialemediaplatforms floreer in die inperkingstyd wat bykans wêreldwyd geld, boer ander weer agteruit.
Ericsson, ’n Sweedse onderneming wat netwerkinfrastruktuur wêreldwyd installeer, se navorsing wys daar was ’n merkbare toename in dataverkeer van mobiele toestelle na sekere sosialemedianetwerke in die laaste paar weke.
Trouens, die staat van inperking wat in meeste lande geld, het groter druk op selfoonnetwerke se kapasiteit geplaas, ook in Suid-Afrika.
Dit het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) genoop om bykomende hoëfrekwensie-radiospektrum beskikbaar te stel om die druk op netwerke te help verlig.
Lees ook: Netwerke moet 'gratis' spektrum dan teruggee
Volgens Ericsson is dataverkeer op vastelynnetwerke tussen 20% en 100% hoër as voor die inperkingstyd.
Selfoonnetwerke het ’n gemiddeld van 20% hoër dataverkeer gesien.
Gebruikers het veral na platforms soos WhatsApp en Facebook gestroom om in verbinding met familie en vriende te bly, het Chafic Traboulsi, hoof van netwerke by Ericsson vir die Midde-Ooste en Afrika, Dinsdag in ’n aanlyn voorlegging oor die toename in dataverkeer gesê.
In Europa is die mobiele internetverkeer na Facebook 52% hoër as voor die inperkingstyd, en verkeer na WhatsApp is ’n stewige 124% meer.
Albei hierdie platforms kan ook gebruik word om video-oproepe te maak.
Verkeer na Twitter, Instagram, YouTube en Netflix het in dieselfde tydperk in Europa egter gedaal, wys Ericsson se navorsing.
In Afrika het verkeer na WhatsApp ook met 117% die hoogte ingeskiet.
Ericsson gee nie spesifieke datums vir die tydperke wat hy vergelyk nie, afgesien van “voor en tydens die Covid-19-pandemie”.
Interessant genoeg is Afrika en die Midde-Ooste die enigste gebiede waar verkeer na Instagram (ietwat) toegeneem het.
Op al die ander vastelande het mense aansienlik minder dié sosiale platform vir foto’s besoek – waarskynlik omdat mense gevoel het hulle het minder foto’s om te deel.
Netflix het vanselfsprekend groot aftrek gekry in die meeste gebiede met verkeer wat in sommige gevalle tot 38% hoër is as voorheen.
Die verkeer na Netflix het net in Europa en Asië afgeneem. Netflix het in Europa perke geplaas op die bandwydte wat sy diens in beslag neem, juis om te keer dat die internet daar oorweldig word deur almal wat gelyktydig sy inhoud stroom.
Hy het dit gedoen deur die beeldgehalte ietwat te verlaag sodat dit minder bandwydte benodig om te stroom.