Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Digitale revolusie 'help dokters'

Daar is tans meer as 250 000 apps wat mense help om hul gesondheid te monitor deur byvoorbeeld bloeddruk-, suikervlak- of selfs hartritme-metings.

Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, aan die woord oor die Apple Watch Series 4 in die Steve Jobs-teater by die groep se hoofkantoor in Cupertino, Kalifornië.Foto: Getty Images

Die gebruik van draagbare welstandstoestelle het sedert 2014 verdriedubbel en met die nuwe Apple Watch 4 kan jy self ’n elektrokardiogram (EKG) doen en na jou dokter stuur.

Dít is enkele voorbeelde van digitale innovasie in die mediese bedryf wat sprekers vandeesweek op die konferensie van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) genoem het ter illustrasie van hoe tegnologie dokters kan help om beter sorg te gee.

Dr. Michael Mol, hoof van die tele-gesondheidsdiens Hello Doctor, het gesê in Suid-Afrika met 1,4 selfone per persoon en 60% van dié fone slimfone, is die geleenthede onbeperk.

Volgens die Amerikaanse Mediese Vereniging was 70% van doktersbesoeke en 40% van besoeke aan hospitale se noodgevalle-afdelings in 2015 onnodig. Dit wys waarom tele-gesondheid so ’n belangrike rol kan speel, sê Mol.

Dr. David Jankelow, ’n kliniese kardioloog en aangewese president van die Hartvereniging van Suid-Afrika, het gesê die digitale revolusie sal dele van die mediese bedryf ontwrig, maar dit is eerder ’n hulpmiddel vir dokters as ’n bedreiging.

Mediese foute is een van die grootste oorsake van sterftes. Dit gebeur in baie gevalle nie omdat dokters iets belangriks misgekyk het nie, maar omdat die diagnose te lank geneem het, het hy gesê.

Digitale innovasie kan dokters help om beter voorspellings te maak en beter behandeling te gee. Draagbare toestelle kan help om toestande van harsingskudding tot moontlike velkanker waar te neem. Dit kan diabetes deur ’n app help beheer en ongereelde hartritmes vroegtydig raaksien.

Onkoloë by die Memorial Sloan Kettering-hospitaal in Amerika het ’n robot, IBM Watson, se kunsmatige intelligensie ingespan om te help met behandeling. Die robot gebruik inligting uit 3 500 handboeke, 61 000 kliniese toetse en 240 000 mediese artikels om dokters te help. Sedertdien gebruik 150 kankerhospitale die riglyne wat só ontwikkel is, het Jankelow gesê.

Hy het ook verwys na atriale fibrillasie (AFib, of algehele ongereëlde hartritme wat in die atrium ontstaan) wat die grootste oorsaak van beroertes is. Dit veroorsaak jaarliks 130 000 sterftes en 750 000 hospitaalopnames in Amerika en behandeling word bemoeilik omdat slagoffers geen simptome toon nie.

In die toekoms sal daar waarskynlik talle patente vir uitvindings wees soos Apple Watch 4 se EKG wat behels dat gesondheidsorgsensors in elektroniese toestelle ingebou word. Die Apple-produk is deur die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) goedgekeur.

Volgens die webblad smartinsights.com kan sowat 310 miljoen draagbare toestelle vanjaar verkoop word met ’n inkomste van $30 miljard. Daarvan sal ’n verwagte $9,3 miljard kom van die kategorie vir slimhorlosies.

Voorts word geraam die mark vir draagbare tegnologie sal tot 2023 jaarliks teen 23% groei tot meer as $100 miljard.

Mol het die tele-gesondheidsdiens Hello Doctor sowat vyf jaar gelede begin. ’n Geregistreerde pasiënt kan enige tyd van enige telefoon bel en in enige van die landstale teen ’n minimale koste met ’n dokter praat. Die diens het reeds 700 000 gebruikers.

Syfers wys 71% van oproepe is opgelos sonder dat enige verdere mediese behandeling nodig was en 29% van die inbellers is verwys na ’n dokter of noodgevalle-afdeling.

Meer oor:  Apple  |  Tegnologie  |  Fiksheidsbandjies  |  Gesondheid  |  Dokters  |  Mediese Sorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.