SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís die hoofrede waarom SA’ers DStv groet

Suid-Afrikaners groet DStv hoofsaaklik omdat dit te duur geword het, het die konsultasiefirma BMIT in ’n nuwe peiling bevind.

Verreweg die meeste respondente het die stygende prys van die betaaltelevisiediens aangevoer as die rede waarom hulle hul DStv-intekening in die laaste jaar of wat gekanselleer het.

BMIT het ’n wye spektrum Suid-Afrikaners oor hul DStv-gewoontes uitgevra.

Respondente is onderverdeel in vyf groepe gegrond op hoe tegnologies bedrewe hulle is. Groep 1 is minder tegnologies bedrewe as groep 5.

Die firma kon geen duidelike verband vind tussen hoe tegnologies bedrewe ’n persoon is en die kans dat hy ’n intekenaar van DStv is nie.

dstv

Altesaam 63% van die respondente in groep 1 het byvoorbeeld aangedui hulle is tans op DStv ingeteken, terwyl 73% van sowel groep 3 as groep 4 wel intekenare is.

Interessant genoeg het baie lede van groep 5 (dis nou diegene wat meer tegnologies bedrewe is) aangedui hulle was voorheen intekenare van DStv, maar nie meer nie.

Dit dui waarskynlik daarop dat hierdie Suid-Afrikaners na ander platforms soos YouTube, Netflix of Showmax gemigreer het.

Hierdie persone het in die meeste gevalle ook meer as twee jaar gelede reeds hul DStv gekanselleer.

Diegene wat minder tegnologies bedrewe is (groepe 1 en 2) het eers in die laaste ses maande besluit om dieselfde te doen.

dstv
   
Hoekom kanselleer mense DStv?

BMIT het die respondente ’n verskeidenheid opsies gebied as rede waarom hulle DStv gekanselleer het.

Verreweg die meeste respondente uit al die groepe het die stygende koste as hoofrede aangevoer.

Nóg ’n netelige kwessie blyk die ewige herhalings van flieks en reekse te wees.

Gebruikers verkies dikwels ook digitale platforms soos Netflix, Showmax of YouTube bo DStv.

Wat sê MultiChoice se syfers?

Die jongste syfers van MultiChoice, wat DStv besit, wys egter dat sy getal intekenare steeds styg.

Volgens die maatskappy se tussentydse resultate, wat hy verlede week uitgereik het, het hy nou 7% meer intekenare as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

DStv bedien nou 8,2 miljoen huishoudings in Suid-Afrika vergelyke met 7,6 miljoen ’n jaar gelede.

Die meeste daarvan is wel intekenare van DStv se goedkoper pakkette.

dstv

Het DStv regtig soveel duurder geword?

DStv verhoog sy pryse jaarliks in April, hoewel die pryse van sommige pakkette onveranderd gehou word.

Die pryse van die betaaltelevisiediens se duurste pakkette, insluitend Premium en Compact Plus, het die afgelope drie jaar elke jaar toegeneem, maar die styging was elke jaar kleiner.

Die pakkette het in 2017 4,2% duurder geword, in 2018 2,7% en vanjaar net 0,3%.

Daarteenoor het die prys van DStv se goedkoopste pakkette vanjaar die skerpste gestyg en is dit nou gemiddeld 5,2% duurder as ’n jaar gelede.

MultiChoice verdien wel net gemiddeld R88 per maand uit intekenare op sy goedkoopste pakkette.

Sy duurste pakkette bring ’n gemiddelde inkomste van R581 per maand per intekenaar in. Dit is 3% laer as ’n jaar gelede.

Die meeste van die respondente in alle groepe in BMIT se peiling sê hulle beplan om hul DStv-intekening minstens nog vir die volgende jaar te behou.

Die meeste respondente beplan ook om op dieselfde pakket te bly. Die gewildste pakkette onder respondente is Premium en Compact.

MultiChoice se aandeelprys het Woensdagoggend net ná 11:00 1% laer op R123,53 verhandel.

Meer oor:  Dstv  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Betaaltelevisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.