Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís hoekom jou sein tydens beurtkrag verdwyn

Ook selfoondiensverskaffers gaan gebuk onder beurtkrag en sukkel om selfoontorings tydens kragonderbrekings aan die gang te hou. Maar hoe raak dit jou?

Drie van Vodacom se skottels buite sy hoofkantoor in Midrand, Johannesburg. Foto: Getty Images

MTN én Vodacom het bevestig die voortslepende probleme by Eskom plaas druk op die netwerk en dit gaan soms broekskeur om die selfoonsein aan te hou wanneer die ligte afgaan.

Albei diensverskaffers gebruik ’n kombinasie van batterye en kragopwekkers om tydens beurtkrag elektrisiteit aan selfoontorings te verskaf.

MTN waarsku egter dat sy batterye nie kans kry om behoorlik te herlaai nie omdat Eskom oor die laaste paar dae so gereeld beurtkrag instel.

“Elke battery benodig tussen 12 en 18 uur om te herlaai, wat weens fase 3- en fase 4-beurtkrag doodeenvoudig nie moontlik is nie,” sê Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake by MTN.

Op sy beurt sê Vodacom hy doen “alles na sy beste vermoë om die invloed van langdurige beurtkrag teen te werk”.

Wat gebeur met ’n selfoonsein tydens beurtkrag?

Sodra die elektrisiteit in ’n gebied afgeskakel word, word die kragtoevoer ook na selfoontorings in die gebied gesny.

Selfoontorings benodig vanselfsprekend elektrisiteit om te funksioneer. Sowel MTN as Vodacom het rugsteunkrag by meeste van hul selfoontorings, maar nie by almal nie.

Torings met rugsteunkrag, hetsy batterykrag of ’n kragopwekker, sal aanhou funksioneer al pas Eskom beurtkrag toe.

As die batterye leegloop, of die kragopwekkers se diesel raak op, skakel die toring af.

“Afhangende van hoe die selfoontorings in die gebied gekonfigureer is, kan dit beteken dat areas geen sein, of onderbrekings in sein ervaar,” verduidelik ’n woordvoerder van Vodacom.

Afhangende van hoe die selfoontorings in die gebied gekonfigureer is, kan dit beteken dat areas geen sein, of onderbrekings in sein ervaar.
Vodacom

Sodra ’n selfoontoring se krag afgaan, sal jou selfoon probeer verbind aan die naaste volgende toring wat wel nog krag het (of van rugsteunkrag voorsien word).

Dit is waarom jou selfoonsein so verswak tydens beurtkrag.

“As jou primêre en sekondêre toring sonder elektrisiteit is, sal daar natuurlik geen sein wees nie,” sê Vodacom.

Diensverskaffers sukkel om voor te bly met die aanvulling van diesel vir die kragopwekkers en die herlaaibare batterye kan net krag vir enigiets tussen vier tot twaalf ure voorsien.

In meer afgeleë gebiede of kleiner dorpies is daar dus ’n groot kans die selfoonsein sal heeltemal tydens gereelde beurtkrag verdwyn.

Selfs al bly een toring in ’n spesifieke gebied aangeskakel, word dit spoedig oorlaai omdat al die toestelle in die betrokke area daarin verbind. Dit het ook ’n wesenlike invloed op die gehalte van die verbinding en kan op sigself tot konneksieprobleme lei.

Volgens Vodacom het beurtkrag ’n nadelige invloed op al Suid-Afrika se netwerke. Cell C gebruik MTN se torings en word derhalwe ook deur onderbrekings geraak.

Telkom het ’n ooreenkoms met Vodacom aangegaan en gebruik nou sy torings. 

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Selfoonnetwerk  |  Selfoondienste  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.