Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís hoekom webwerwe vou op Swart Vrydag
Die webwerwe van e-handelaars steier gewoonlik op dae soos Swart Vrydag omdat so baie mense dit gelyktydig besoek. Foto: Unsplash

Dis daardie een persoon uit honderde duisende wat uiteindelik maak dat ’n gewilde webwerf op ’n dag soos Swart Vrydag soos ’n kaartehuis inmekaar stort.

Dis soos ’n kolkende rivier wat in ’n massiewe dam instroom, en die laaste druppel water wat maak dat die damwal bars.

“En die ergste is, dit is bykans onmoontlik vir e-handelaars soos Takealot om te toets hoe hul stelsels op ’n besige dag soos Swart Vrydag gaan reageer,” sê Dave Blakey, medestigter en uitvoerende hoof van Snapt, ’n plaaslike onderneming wat programmatuur inspan om webwerwe te help om staande te bly.

Takealot het ’n jaar gelede meer as R87 miljoen se verkope in net agt ure op Swart Vrydag aangeteken.

Die e-handelaar se webwerf en app was egter vroegoggend vir bykans 40 minute buite werking omdat sy kredietkaartdiensverskaffer nie die toestroming van kopers kon hanteer nie.

Blakey verduidelik webwerwe is ontwerp om ’n sekere aantal gebruikers per sekonde te bedien. Dit staan as die webwerf se “throughput”of “deurvoer” bekend en word gemeet in gigagrepe per sekonde.

“Gestel jou webwerf het die kapasiteit om 100 000 gebruikers per sekonde te bedien, en jy kry skielik 101 000 gebruikers, dan verloor almal toegang tot die webwerf, nie net die bykomende 1 000 nie.”

Dis soos die laaste strooihalm wat die kameel se rug breek.

En om van daardie punt af weer die metaforiese kameel op die been te kry, is bykans onmoontlik, sê Blakey.

Dit is bykans onmoontlik vir e-handelaars soos Takealot om te toets hoe hul stelsels op ’n besige dag soos Swart Vrydag gaan reageer.
Dave Blakey

Die probleem word vererger as al 100 000 gebruikers wat skielik toegang verloor het, weer die webblad probeer verfris in die hoop dat dit dan gaan werk.

“Die hele situasie ruk dan hand uit.”

Takealot verwag om vanjaar sy “grootste Swart Vrydag-uitverkoping tot dusver” te hê, sê hy in ’n verklaring.

Die verwagting is dat Takealot en sy klerehandelaar, Superbalist, op Swart Vrydag ’n bestelling per sekonde sal ontvang en verwerk.

Volgens ’n woordvoerder van Superbalist het sy ingenieurs sy stelsels maande lank in aantog tot Swart Vrydag getoets om die “verwagte toestroming van verkeer” te kan hanteer.

snapt
Dave Blakey, uitvoerende hoof van Snapt.

Blakey is egter skepties dat enige webwerf werklik sulke toetse suksesvol kan uitvoer.

“Dit is moeilik om te simuleer wat gaan gebeur as die helfte van Suid-Afrika jou webwerf tegelykertyd besoek,” sê hy.

Die totale waarde van Takealot se verkope op Swart Vrydag verlede jaar was 125% hoër as in 2017 op dié dag.

Kim Reid, uitvoerende hoof, verwag dat vanjaar se Swart Vrydag nog groter gaan wees en sê die maatskappy het voorbrand gemaak teen die verwagte toename in verkeer.

Snapt maak dit moontlik vir webwerwe om op ’n dinamiese wyse ’n skerp toename in verkeer te hanteer, sonder die noodsaak om permanent bykomende bedieners te gebruik, wat baie duur is om in stand te hou.

Snapt tree soos ’n hekwag op vir die verkeer na ’n webwerf en kan vooruit sê wanneer die beskikbare kapasiteit bereik gaan word.

In stede daarvan om almal wat reeds op die webwerf is, af te skop, sal Snapt eerder keer dat meer persone toegang kry en hulle in ’n sogenaamde “digitale wagkamer” laat wag.

’n E-handelaar soos Takealot kan egter miljoene aan inkomste verloor vir elke minuut wat moontlike kopers nie toegang tot sy webwerf of app kan kry nie.

Afgesien van ’n webwerf se bedieners, kan ander faktore dit natuurlik ook laat vou, sê Blakey.

Dit sluit in die platform waarop die betalings geskied.

Dit was juis Takealot se kredietkaartdiensverskaffer wat verlede jaar veroorsaak het dat sy webwerf vir sowat 40 minute van lyn was op Swart Vrydag.

Swart Vrydag is op Vrydag vandeesweek.

Wat moet jy doen as ’n webwerf vou terwyl jy besig was om ’n aankoop te maak?

Volgens Dave Blakey, medestigter en uitvoerende hoof van Snapt, is dit belangrik dat kopers koelkop bly as dit wil voorkom ’n e-handelaar se webwerf is besig om te vou, of heeltemal buite werking geraak het.

“Onthou, al jou persoonlike inligting, soos jou kredietkaartbesonderhede, is steeds veilig,” sê hy.

So al was jy besig om jou kredietkaartbesonderhede in te voer toe die webwerf ineenstort, het jou inligting nie in die hande van kuberboewe beland nie.

Sou die webwerf vou terwyl jy besig was om ’n aankoop te maak, is dit belangrik dat jy jou bankstate nagaan om te bepaal of die geld uit jou rekening verhaal is voordat die webwerf opgehou werk het.

In baie gevalle lyk dit asof ’n betaling misluk het omdat die webwerf nie meer werk nie, maar in werklikheid het die e-handelaar jou geld ontvang en word jou bestelling in die agtergrond verwerk.

Die vernaamste ding wat jy nié moet doen nie, sê Blakey, is om die webblad die heeltyd te probeer verfris.

“As dit een maal nie werk nie, gaan dit nie help jy verfris die blad oor en oor nie. Trouens, jy maak die probleem net erger.”

Meer oor:  Superbalist  |  Takealot  |  Snapt  |  Swart Vrydag  |  Inkopies  |  Tegnologie  |  Internet  |  E-Handel  |  Webwerf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.