Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dis waarom jy nooit kaalfoto’s moet stuur nie

Moenie jou rieme styfloop met kaalfoto’s nie. Kubermisdadigers begin seks al hoe meer as ’n wapen in hul aanvalle op niksvermoedende internetgebruikers gebruik.

Moenie intieme foto’s aan enigiemand aanlyn stuur nie, waarsku kenners. Foto: Unsplash

Digital Shadows, ’n gesogte kubersekerheidsmaatskappy, het pas ’n verslag uitgereik waarin hy waarsku dat die gevalle van seksuele afdreiging, oftewel sextortion, skerp toeneem.

Die maatskappy het bykans 800 000 gevalle van seksuele afdreiging aanlyn tussen Julie 2018 en Februarie 2019 aangeteken. Daar is waarskynlik honderdduisende ander gevalle waarvan die owerhede nie bewus is nie.

Sextortion is wanneer ’n aanvaller dreig om intieme inligting oor ’n persoon of sy sekslewe bekend te maak tensy ’n bedrag geld betaal word.

Hierdie afdreigers voer dikwels aan – gewoonlik in ’n e-posboodskap aan die slagoffer – dat hulle spesiale programmatuur benut het om sy internetgewoontes te monitor en nou weet watter onsmaaklike pornografiese webwerwe hy besoek het.

In ander gevalle bekom die aanvaller kaalfoto’s of -video’s van die slagoffer deur platforms soos WhatsApp of Skype deur voor te gee hulle stel romanties belang in die slagoffer.

Sextortion is wanneer ’n aanvaller dreig om intieme inligting oor ’n persoon of sy sekslewe bekend te maak tensy ’n bedrag geld betaal word.

Kort voor lank begin hulle die slagoffer dreig en sê hulle gaan die eksplisiete foto’s uitreik tensy ’n bedrag, gewoonlik in die vorm van ’n digitale geldeenheid, aan hulle oorbetaal word.

“Die storie is basies elke keer dieselfde,” sê John Mc Loughlin, hoof van J2 Software, ’n plaaslike kubersekerheidsfirma.

“ ’n Man ontmoet ’n vrou op ’n afspraak-app, hulle begin gesels op WhatsApp en kort voor lank stuur sy intieme foto’s van haarself en vra dat die man ook foto’s stuur.”

As die man weier, raak die vrou dikwels aggressief en dring daarop aan dat hy ’n kaalfoto van homself stuur waarop sy gesig ook sigbaar is.

Sodra die man dit doen, het hy in die aanvaller se strik getrap, waarsku Mc Loughlin.

LEES OOK: Het jy al pornografie aanlyn gekyk? Lees dan hier

   

Hoe voorkom jy dit?

   

Die eenvoudigste manier om te keer dat dit met jou gebeur, is om nooit intieme foto’s aan enigiemand aanlyn te stuur nie, maak nie saak wie hulle voorgee om te wees nie, sê Mc Loughlin.

Bedek ook jou rekenaar se webkamera wanneer jy dit nie gebruik nie. Hoewel onwaarskynlik, is dit teoreties moontlik dat booswigte toegang tot jou rekenaar se kamera kan kry en jou onwetend afneem.

Digital Shadows waarsku in sy verslag ook dat seksuele afdreiging toenemend voorkom.

Boonop raak die aanvallers ook meer gesofistikeerd en word dit al moeiliker om die gevaarligte te sien voordat dit te laat is.

Die aanvallers gebruik byvoorbeeld ’n e-posadres van ’n gerekende e-posdiens soos outlook.com, wat vertroue skep.

LEES OOK: Seks, avontuur en tegnologie - sien jy kans?

Waar sulke tipe e-posse vroeër deurspek was van spelfoute en swak taalgebruik, is dit deesdae ook nie meer die geval nie.

Volgens Digital Shadows se navorsing word ’n disproporsionele aantal van dié e-posse van IP-adresse in Indië, Viëtnam en Brasilië gestuur.

’n Beduidende aantal word ook vanuit Suid-Afrika gestuur, hoewel heelwat minder.

“Moenie met ’n slap riem gevang word nie; wis bloot die e-pos uit as dit in jou inmandjie beland,” waarsku Digital Shadows in sy verslag.

Meer oor:  Seks  |  Kuberaanval  |  Afpersing  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.