Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís waarom nuwe datareëls nog sloer
Nuwe datareëls van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika moet nog amptelik ingestel word. Foto: Bloomberg

Nadat die hooggeregshof in Pretoria in Junie bevind het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) het diensverskaffers te min tyd gegee om aan die nuwe reëls oor data te voldoen, is daar nog nie ’n nuwe sperdatum bekend gemaak nie.

Okosa het einde April verskeie nuwe reëls en regulasies aangekondig oor hoe diensverskaffers gebruikers se data moet hanteer.

Dit moes aanvanklik op 8 Junie in werking getree het, maar Cell C het in ’n dringende hofaansoek om uitstel gevra omdat hy sy stelsels op ’n hoogs tegniese vlak sal moet aanpas om daaraan gehoor te gee.

In sy hofaansoek het Cell C gevra vir ’n “billiker skedule” waarvolgens die nuwe regulasies toegepas moet word. MTN het hom ook later as ’n respondent by Cell C se hofaansoek gevoeg.

Die hof het gelas Okosa moet met ’n nuwe voorstel vorendag kom waarvolgens die regulasies ingestel moet word.

Wat is die nuwe datareëls?
  1. Diensverskaffers mag voortaan net buitebondeltariewe vir data vra indien gebruikers pertinent daartoe instem.
  2. Diensverskaffers moet gebruikers inlig sodra hulle meer as 50% van hul beskikbare data gebruik het, weer by 80% en sodra dit opgebruik is.
  3. Diensverskaffers moet gebruikers toelaat om ongebruikte data na ’n volgende kalendermaand oor te dra.
  4. Diensverskaffers moet gebruikers die opsie bied om data van een rekening na ’n ander op dieselfde netwerk oor te dra.

Die owerheid het egter besluit om Cell C se aansoek teen te staan. Okosa voer aan die hofbeslissing beteken gebruikers sal steeds vir die “afsienbare toekoms” nie ongebruikte data na ’n volgende kalendermaand kan oordra nie, iets wat selfoongebruikers al jare lank wil hê.

Wag nog op ’n hofdatum

By navrae het Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa, bevestig die owerheid wag nog op ’n hofdatum om sy besluit te verdedig om die regulasies dadelik in werking te stel.

“Intussen sal diensverskaffers nie gestraf word as hulle nie die regulasies nakom nie,” sê Maleka.

Intussen het MTN gesê hulle het vroeër vandeesmaand self vertoë aan Okosa gerig oor waarom hulle meer tyd benodig om die nuwe regulasies in te stel.

Dié saak sal waarskynlik in oorleg met Cell C se aansoek aangehoor word sodra die partye weer in die hof verskyn, sê Graham Mackinnon, regshoof van Cell C.

Diensverskaffers rus egter intussen nie op hul louere nie. Volgens Mackinnon het Cell C reeds begin om die nodige veranderinge aan te bring.

’n Woordvoerder van Vodacom sê dié diensverskaffer is steeds “ten volle daartoe verbind om die regulasies in werking te stel”, en Vodacom gaan eersdaags nuwe funksies bekend stel wat aan gebruikers groter beheer oor hul dataverbruik en -besteding sal gee.

Volgens Vodacom het hy ook reeds die funksionaliteit ingestel waarvolgens gebruikers in kennis gestel word sodra meer as 50% van hul data opgebruik is.

“Data is baie belangrik vir ons gebruikers en hierdie nuwe funksies sal help dat hulle die meeste waarde daaruit kry.”

Op sy beurt sê Telkom hy het ook vir uitstel van ses maande gevra. “Ons is egter reeds besig om ons stelsels in orde te kry al is daar nog nie ’n datum waarop ons aan die nuwe regulasies moet voldoen nie,” sê ’n woordvoerder.

Telkom sê hy gaan voorlopig probeer om alles teen Januarie 2019 in plek te hê.

    Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Diensverskaffer  |  Regulasies  |  Data  |  Okosa
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.