Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís wat Bob van Dijk in pandemie-jaar verdien het

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, het in die jaar tot einde Maart $16,661 miljoen verdien.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.

Net 9% daarvan was sy vaste salaris van $1,448 miljoen, oftewel $121 000 per maand. Teen vandag se wisselkoers kom dit neer op meer as R1,7 miljoen per maand.

Van Dijk en sy bestuurspan het nie aan die begin van die boekjaar ’n verhoging in hul basiese salaris gekry nie weens vrese oor die impak van die pandemie. Hul vergoeding is wel in die middel van die jaar aangepas.

Van Dijk het in die boekjaar tot einde Maart altesame 4,3% meer verdien as in die vorige boekjaar.

Die volle $16,661 miljoen word as volg saamgestel:

  • Vaste salaris: $1,448 miljoen
  • Korttermyn-aansporings: $1,424 miljoen. Dit word gegrond op spesifieke finansiële teikens wat gehaal moes word.
  • Langtermyn-aansporings: $13,647. Dit sluit in aandele-opsies en aandele-groeiregte wat oor verskillende tydperke gevestig word en ook gegrond word op spesifieke teikens. Vir aandele-opsies is dit die groei in die groep se aandeelprys.
  • Bydrae tot pensioenfonds, mediese fonds en ander byvoordele: $142 000

Basil Sgourdos, Naspers en Prosus se finansiële hoof, het vir die jaar $10,482 miljoen verdien.

Daarvan was 11%, oftewel $1,143 miljoen, sy vaste salaris.

Dit was altesame 14,4% meer as die vorige boekjaar, en sluit in ’n verhoging van meer as 20,3% in sy salaris.

Sy vergoeding is as volg saamgestel:

  • Vaste salaris: $1,143 miljoen
  • Korttermyn-aansporings: $1,143 miljoen
  • Langtermyn-aansporings: $8,087 miljoen
  • Pensioen, medies en ander byvoordele: $109 000

Sowel Van Dijk as Sgourdos is nou net meer as sewe jaar in hul huidige pos, Van Dijk sedert April 2014 en Sgourdos sedert Julie 2014. Van Dijk werk sedert Augustus 2013 by Naspers en Sgourdos sedert Augustus 1995.

Craig Enenstein, hoof van Naspers en Prosus se direksie se vergoedingskomitee, sê in die vergoedingsverslag die groep is bedrywig in ’n bedryf wat vinnig ontwikkel. Hulle ding met ander tegnologiemaatskappye mee vir die beste talent ter wêreld, veral met groot genoteerde Amerikaanse verbruikersinternetgroepe. Dit sluit in Amazon, Alphabet (moedermaatskappy van Google), Facebook, PayPal, Netflix en Uber.

Enenstein beklemtoon weer dat bestuurslui se salaris aan baie spesifieke finansiële teikens gekoppel word, en ook ooreenstem met wat aandeelhouers bevoordeel.

Meer as 92% van Van Dijk en Sgourdos se langtermyn-aansporings is gekoppel aan langtermyn-waardeskepping in die maatskappye se internetondernemings as Tencent uitgesluit word.

Die verslag verwys na besware wat voorheen geopper is oor Van Dijk se salaris teenoor die vergoeding en werkomstandighede van mense soos afleweraars van die kosafleweringsondernemings Swiggy en Mr D.

“Ons doen sake in hoëgroei-ekonomieë waar maatskaplik-ekonomiese ongelykheid groot kan wees, en maatskaplike billikheid is vir ons baie belangrik. Ons verseker dat ons betaalpraktyke billik, mededingend en bo minimumloon-standaarde is.”

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Basil Sgourdos  |  Bob Van Dijk  |  E-Handel  |  Beleggings  |  Tegnologie  |  Geklassifiseerde Advertensies  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.