Wat presies gaan gebeur as jy nie WhatsApp se nuwe privaatheidsbeleid betyds aanvaar nie?
Die sperdatum van 15 Mei vir die aanvaarding van WhatsApp se nuwe beleid sodat jy dit as jou gunsteling-kletsapp kan behou, kruip stadig nader.
WhatsApp het onlangs meer inligting aan sy gebruikers bekend gemaak oor waarom die veranderings aangebring word.
LEES OOK: WhatsApp gee jou meer tyd, maar nuwe beleid kom
Nou verduidelik hy wat met jou rekening sal gebeur as jy nie die nuwe privaatheidsbeleid aanvaar nie.

15 Mei is D-dag - daarna sal jy nie meer al WhatsApp se funksies kan gebruik as jy nie die nuwe privaatheidsbeleid aanvaar het nie. Foto: Unsplash
unsplash
As jy nie betyds op die “Aanvaar”-knoppie druk nie, sal jy sekere funksies verloor.
Watter presies? “Jy sal vir ’n kort tydjie nog oproepe en kennisgewings kan ontvang, maar jy sal nie enige boodskappe op die app kan lees of stuur nie,” sê die maatskappy op ’n nuwe amptelike (FAQ-) veel-voorkomende-vraag-bladsy.
Jy sal sleutelfunksies verloor en dan kan jou rekening ook verwyder word. WhatsApp het reeds veral gebruikers wat dit as sakerekening vir handel gebruik en ’n tarief vir die diens betaal, in kennis gestel hiervan.
Jy het egter twee opsies:
1. Jy gee toe en aanvaar die nuwe privaatheidsbeleid.
2. Laai jou kletsgeskiedenis af en verwyder jou WhatsApp-rekening.
Grasie van 120 dae
WhatsApp sê dat jy ná 15 Mei steeds sy nuwe privaatheidsbeleid kan aanvaar en weer die app met volle funksionaliteit kan gebruik.
Sodra die sperdatum aangebreek het en jy nog nie op die “Aanvaar”-knoppie gedruk het nie, sal jou rekening as onaktief geklassifiseer word.
Onaktiewe rekeninge word outomaties ná 120 dae (sowat vier maande) verwyder.
So klassifiseer WhatsApp onaktiwiteit:
- Internetverbinding is nodig vir ’n rekening om aktief te wees. As ’n gebruiker WhatsApp op sy toestel oop het, maar hy het nie ’n internetverbinding nie, sal die rekening onaktief wees.
- Effektiewelik beteken dit jy het ná 15 Mei nog 120 dae om WhatsApp se aangepaste privaatheidsbeleid te aanvaar (of te verwerp). Elke dag ná 15 Mei sal jy egter met beperkte funksionaliteit moet saamleef.
Kan jy jou WhatsApp-rekening verwyder?
Jy kan jou kletsgeskiedenis aflaai en WhatsApp vaarwel roep.
As jy jou rekening uitwis, sal jy uit alle groepe geskop word, en jou kletsgeskiedenis en enige gestoorde inligting sal permanent uitgevee word. “Dit is iets wat ons nie kan omkeer nie,” sê WhatsApp.
Laastens kan jy alternatiewelik jou WhatsApp-data na Telegram migreer. Jy sal al jou WhatsApp-klets – waaronder media en dokumente – van persoonlike sowel as groepgeselsies – na Telegram se funksie “Export chat” kan skuif.
LEES OOK: Behou só jou klets-info as jy van WhatsApp skuif