Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dís wat nuwe aanstelling by Naspers beteken

Die aanstelling van Phuthi Mahanyele-Dabengwa as die nuwe uitvoerende hoof van Naspers in Suid-Afrika verander niks aan die groepstruktuur of sy plaaslike belange nie.

Phuthi Mahanyele-Dabengwa, naspers
Phuthi Mahanyele-Dabengwa is die nuwe hoof van Naspers in Suid-Afrika.

Naspers het Mahanyele-Dabengwa se aanstelling Woensdag aangekondig. Sy was voorheen uitvoerende voorsitter van die swartbeheerde beleggingsvoertuig Sigma Capital.

Naspers besit verskeie groot Suid-Afrikaanse maatskappye, waaronder Media24, Takealot, OLX Suid-Afrika en PayU.

Shamiela Letsoalo, kommunikasiehoof van Naspers, het by navraag bevestig dat Mahanyele-Dabengwa se aanstelling niks by dié afsonderlike maatskappye van Naspers verander nie.

“Al dié maatskappye is steeds deel van hul onderskeie sakesegmente, wat deur hul eie uitvoerende hoofde bestuur word, en wat ook deel is van die Naspers-groep se uitvoerende bestuurspan,” sê Letsoalo.

Die uitvoerende hoofde van Naspers se ander Suid-Afrikaanse maatskappye sal steeds regstreeks aan Bob van Dijk, Naspers se groephoof, verslag doen. 

LEES OOK: Naspers stel nuwe hoof in SA aan

Mahanyele-Dabengwa gaan wel ook deel wees van die Naspers-groep se uitvoerende bestuurspan. Volgens Letoalo gaan sy help om Naspers se strategie spesifiek in Suid-Afrika in werking te stel.

Daarbenewens gaan sy ook aan die hoof staan van die maatskappy se twee projekte vir werkskepping en beleggings in nuwe tegnologie, naamlik Naspers Labs en Naspers Foundry.

Hierdie eenhede is gestig met die uitsluitlike doel om die Suid-Afrikaanse tegnologiebedryf ’n hupstoot te gee en die hoë werkloosheidsyfer onder die Suid-Afrikaanse jeug te takel.

Sy sal Naspers ook op die hoogste vlak in Suid-Afrika verteenwoordig en sal ook met rolspelers, wat moontlike beleggers en aandeelhouers insluit, vergader.

Nes Naspers se ander afsonderlike uitvoerende hoofde doen sy regstreeks verslag aan Van Dijk.

Mahanyele-Dabengwa het haar pos op 1 Julie begin. Sy sal sake vanuit Naspers se Johannesburgse kantoor doen eerder as vanaf sy hoofkantoor in die Kaapse hawegebied.

Afgesien van haar rol by Sigma Capital het Mahanyele-Dabengwa op Vodacom se direksie gedien en was sy aan die stuur van Shanduka, nóg ’n beleggingsmaatskappy.

Shanduka is destyds deur pres. Cyril Ramaphosa geskep.

Sy dien ook steeds op die direksie van die Ramaphosa-stigting, wat behoeftige leerlinge bystaan.

Mahanyele-Dabengwa se aanstelling beteken nie Naspers stig ’n afsonderlike filiaal met dieselfde naam in Suid-Afrika nie.

Die maatskappy wil wel sy oorsese internetbelange, waaronder Tencent en Mail.ru, op die Euronext Amsterdam noteer, maar dié maatskappy gaan dieselfde bestuur en direksie as Naspers hê. Dis onlangs Prosus gedoop.

Naspers se aandeelhouers stem in Augustus oor die voorgenome notering. Dit sou reeds op 28 Junie gebeur het, maar ’n administratiewe flater deur die maatskappy wat gekontrakteer is om omsendbriewe aan aandeelhouers uit te stuur, het tot ’n vertraging gelei.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Takealot  |  Naspers  |  Media24  |  Media  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.