
Een van Takealot se vragmotors staan gereed om pakkies af te lewer.
E-handelaars kan reeds ’n week lank alle items – uitgesluit drank en sigarette – verkoop.
Takealot het onmiddellik nadat beperkings op e-handel opgehef is, ’n skerp toename gesien in die getal bestellings, veral van kopers wat die eerste keer iets op sy platform aanskaf.
Daar is ’n duidelike tendens onder die gewildste items wat die afgelope week van Takealot se digitale winkelrakke gevlieg het.
Ingeperkte Suid-Afrikaners blyk desperaat te wees vir oefentoerusting, videospeletjies en ink en papier vir drukkers.
Televisies en ander groot huishoudelike toerusting is nou ook uiters gewild gegewe dat die verkoop daarvan in fisieke winkels steeds verbode is.
Aanlyn bestellings bly een van die veiligste metodes om inkopies te doen aangesien dit fisieke kontak tussen persone tot die minimum beperk.
Volgens Karla Levick, hoof van kommunikasie van Takealot, was daar vanselfsprekend ’n skerp toename in bestellings van skoolbehoeftes omdat so baie leerlinge tuisonderrig ontvang.
“Maar daar was ook ’n paar interessante kategorieë wat groot aftrek gekry het,” sê sy.
Die gewildste items wat die afgelope week op Takealot bestel is, sluit in:
- Stofsuiers
- Skootrekenaars
- Videospeletjiekontroles
- Trapmeule en gewigte
- Mediaspelers vir televisies
- SIM-kaarte en lugtyd
- Gesigskerms
- Drukkerink
- A4-papier
- Alkoholvrye bier
Op Superbalist, wat ook deur Takealot besit word, was van die gewildste items Vans Old Skool-tekkies, Nike-hardloopskoene, Skagen Gitte-horlosies, en truie.
- Netwerk24 is deel van Media24, nes Takealot ’n filiaal van Naspers.