Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Dis wat spektrum netwerke gaan kos
Radiotorings soos hierdie straal radioseine uit vir kommunikasie. Foto: Unsplash

Ná 15 lang jare het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) Woensdagmiddag aangekondig watter nuwe spektrumbande aan diensverskaffers beskikbaar gestel gaan word.

“Ons het almal vir hierdie dag gewag en ná konsultasie met al die belanghebbendes, kan die lisensiëringsproses vir spektrum nou voortgaan,” sê Keabetswe Modimoeng, voorsitter van Okosa.

Diensverskaffers smag reeds jare na meer beskikbare hoëfrekwensieradiospektrum en voer aan meer beskikbare spektrum sal die koste van kommunikasie help verlaag.

Okosa het Woensdag ook die minimum pryse bekend gemaak van die verskillende allokerings van spektrum.

En die hemelhoë pryse daarvan maak dit onwaarskynlik dat diensverskaffers gou die prys van onder meer data sal kan verlaag.

Spektrum in drie bande sal teen Maart opgeveil word. Dit sluit in spektrum in die band 700 MHz tot 800 MHz, ook bekend as laefrekwensiespektrum, en spektrum in die hoëfrekwensiebande van 2 600 MHz en 3 500 MHz.

Spektrum van ’n laer frekwensie kan inligting oor ’n langer afstand stuur, wat dit ideaal maak vir 3G-verbindings veral in afgeleë gebiede waar daar nog nie selfoonsein is nie.

Die verwagting was aanvanklik dat spektrum in die laefrekwensiebande goedkoper sou wees, maar die teenoorgestelde blyk waar te wees.

Okosa beplan om nege allokerings in die band 700 MHz tot 800 MHz op te veil.

Die vier beskikbare allokerings in die 700 MHz-band gaan ’n minimum van R526,6 miljoen elk kos.

Die vyf beskikbare allokerings in die 800 MHz-band gaan enigiets tussen R752,3 miljoen en R1,16 miljard elk kos.

Diensverskaffers sal teen mekaar meeding en moet bie vir elke allokering. Die finale prys per allokering sal dus waarskynlik heelwat hoër wees as die minimum bedrag wat Okosa vereis.

Spektrum in die hoërfrekwensiebande, wat weer ideaal is vir 4G- en selfs 5G-kommunikasie, is ’n klein bietjie goedkoper.

Daar sal 14 allokerings beskikbaar wees in die 2 600 MHz-band teen ’n minimum van R97,8 miljoen elk.

Die tien beskikbare allokerings in die 3 500 MHz-band gaan enigiets tussen R9,8 miljoen en R75,6 miljoen elk kos. Of selfs meer, afhangende van hoeveel die diensverskaffers daarop bie.

Spektrum

In totaal word 406 MHz se spektrum opgeveil, opgedeel in verskillende bande en verskillende allokerings om die veiling regverdig te maak, sê Modimoeng.

Dit word gedoen om te keer dat een diensverskaffer al die beskikbare spektrum opraap.

’n Deel van die spektrum moet ook aan virtuele selfoonnetwerke gegee word. Voorbeelde van virtuele selfoonnetwerke sluit in FNB Connect, Virgin Mobile en MRP Mobile.

Hierdie diensverskaffers word geabba op die netwerk van gevestigde diensverskaffers, hoofsaaklik Cell C.

Cell C maak weer hoofsaaklik gebruik van MTN se netwerkinfrastruktuur, wat die toekenning van spektrum verder kompliseer.

Daar word ’n perk geplaas op hoeveel spektrum elke diensverskaffer kan besit ná die veiling, sê Modimoeng.

Al die spektrum wat diensverskaffers reeds besit, sal ook bygereken word met betrekking tot die hoeveelheid wat hulle tydens die veiling nog mag aankoop.

LEES OOK: 5G in SA: Waar staan sake nou?

Mikpunt van die veiling

Volgens Modimoeng is die mikpunt van die veiling uiteindelik om die “kwaliteit van die diens vir alle selfoongebruikers, ongeag waar hulle woon” te verbeter.

Diensverskaffers wat suksesvol bie op sekere allokerings van spektrum, sal ook aan bykomende voorwaardes moet voldoen soos om binne vyf jaar dekking na bykans al die uithoeke van Suid-Afrika uit te brei.

Die strengste voorwaardes geld veral die diensverskaffers wat suksesvol bie op die laefrekwensiespektrum in die 700 MHz tot 800 MHz-band.

Diegene wat spektrum in daardie bande ontvang, moet binne vyf jaar seker maak 97% van die bevolking het toegang tot selfoonsein en dat die sein in “onderbediende” munisipaliteite verbeter word.

Okosa hoop dat alle munisipaliteite binne vyf jaar ’n aflaaispoed van minstens 5 Mbps oor ’n selfoonnetwerk sal sien.

Die veiling vir meer beskikbare spektrum sou aanvanklik in Desember plaasgevind het, maar is uitgestel weens die koronaviruspandemie.

Diensverskaffers kon vroeg tydens die pandemie aansoek doen vir van die beskikbare spektrum om te help om die bykomende druk op netwerke te verlig omdat soveel Suid-Afrikaners van die huis af moes werk.

Okosa het van die spektrum wat hy beplan om op te veil op ’n tydelike grondslag aan onder meer Vodacom, MTN en Telkom verskaf.

Al die bykomende spektrum moes aanvanklik op 30 November aan die Okasa “teruggegee” word, maar nou sê Modimoeng diensverskaffers kan dit maar hou totdat die veiling gehou word “voor 31 Maart 2021”.

Diensverskaffers het tot 28 Desember om hul aansoeke in te dien om aan die spektrumveiling deel te neem.

Lede van die publiek kan tot 14 Oktober kommentaar lewer oor Okasa se beplande veiling.

Wat is spektrum?

Die woord “spektrum” in die konteks van mobiele netwerke verwys na die toekenning van radiofrekwensies aan die verskillende diensverskaffers om te gebruik vir kommunikasiedoeleindes.

Inligting – soos data en oproepe – word tussen selfoontorings en selfone gestuur deur hierdie radiofrekwensies.

’n Land se spektrum behoort aan die staat en dra ’n groot kommersiële waarde, daarom word dit normaalweg opgeveil aan die diensverskaffer wat bereid is om die meeste daarvoor te betaal.

Spektrum word in verskillende bande – oftewel allokerings – opgedeel. Diensverskaffers “besit” dan sekere allokerings en kommunikeer net op daardie frekwensies.

As sulke allokerings nie plaasgevind het nie, sou diensverskaffers se seine gekruis het en kommunikasie sou in effek onmoontlik gewees het.

Dink aan spektrum as ’n groot, oop veld en die “bande” of allokerings as die paaie wat opgerig word om seker te maak elke diensverskaffer se “verkeer” bly in sy baan.

Radiospektrum word verder onderverdeel tussen die tipe tegnologie wat daarvan gebruik maak.

Frekwensies vir radio’s (insluitend AM en FM) is gewoonlik tussen 100 MHz en 200 MHz. Frekwensies vir diensverskaffers (dus vir oproepe en die stuur van data) begin by 700 MHz tot soveel as 3 500 MHz.

Hoër frekwensies word deur ander kommunikasiemiddels soos WiFi-herleiers en Bluetooth gebruik.

Hoe hoër die frekwensie, hoe korter is die afstande waaroor dit data kan stuur.

Meer oor:  Okosa  |  Kommunikasie  |  Diensverskaffers  |  Spektrum  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.