Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
DStv dalk vasgevat oor sy planne met Netflix, Amazon
DStv het reeds ’n ooreenkoms met Netflix en Amazon gesluit om hul inhoud regstreeks op sy platform te stroom. Foto: Getty Images

MultiChoice se ooreenkoms met Netflix en Amazon om hul inhoud regstreeks op sy dekodeerders te stroom, word nou deur die Mededingingskommissie ondersoek.

MultiChoice, wat DStv besit en bedryf, het in Junie bekend gemaak hy het reeds ’n ooreenkoms met dié Amerikaanse maatskappye gesluit, waarvolgens hul onderskeie stromingsdienste by sy nuwe dekodeerders ingesluit sal word.

Netflix en Amazon Prime sou deel word van DStv se bestaande aanbod stromingsdienste, wat reeds Showmax en DStv Now insluit.

Intekenare kry dus op een platform toegang tot al hierdie dienste, hoewel ’n afsonderlike intekening vir elkeen bekom moet word.

(Showmax en DStv Now, wat albei ook aan MultiChoice behoort, is wel ingesluit by DStv se duurste pakket.)

Kykers sou steeds afsonderlik ook kan inteken op Netflix of Amazon Prime, maar die voordeel vir MultiChoice is dat kykers al die dienste binne sy eie ekostelsel bekom.

MultiChoice sou dit ook moontlik maak om ’n intekening vir Netflix of Amazon Prime by kykers se bestaande DStv-rekening te voeg.

Die maatskappy sal waarskynlik ook ’n persentasie van Netflix en Amazon se inkomste deel omdat kykers by hierdie stromingsdienste deur sy platform aansluit.

Dit is hierdie fynere besonderhede van presies wat MultiChoice se ooreenkoms met Netflix en Amazon behels wat die Mededingingskommissie nou ondersoek.

Sou MultiChoice toegelaat word om voort te gaan, maak dit die deur oop vir toekomstige stromingsdienste om ook by sy DStv-produk betrek te word.

Internasionale stromingsdienste soos Hulu, Disney+ en HBO Max is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar sal na verwagting binne die volgende paar jaar hier beskikbaar word.

Sou al hierdie dienste op een platform beskikbaar wees, kan daar geargumenteer word dat dit MultiChoice ’n onregverdige voorsprong gee bo ander, soortgelyke platforms of slimtoestelle.

Die Mededingingskommissie het bevestig hy ondersoek MultiChoice se ooreenkoms met Netflix en Amazon, maar wou nie meer daaroor uitwei nie.

Siyabulela Makunga, woordvoerder, sê die ondersoek is in ’n baie “sensitiewe stadium”.

MultiChoice wil eweneens nie nou kommentaar lewer oor die ondersoek nie.

Tim Jacobs, finansiële hoof van MultiChoice, het in Junie erken die maatskappy verwag om ’n kommissie te kry deur al die klante wat dit vir Netflix en Amazon deur sy platform bekom.

MultiChoice het die afgelope paar weke ook groot veranderinge aan sy aanbod fliek- en sportkanale aangekondig.

Sy eie fliekkanale word van 1 September van ses tot vier verminder en sy sportkanale word ook meer volgens sportsoort gegroepeer.

Die Amerikaanse sportkanaal ESPN keer terug, terwyl BBC First van DStv se aanbod verwyder word.

MultiChoice se aandeelprys was Donderdag bykans onveranderd op R105,25.

Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Amazon Prime  |  Multichoice  |  Showmax  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.