Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
DStv Now binnekort in 4K

MultiChoice beplan om eersdaags video in 4K-resolusie op sy stromingsapp DStv Now beskikbaar te stel.

4K is die volgende generasie ultra-hoëdefinisie beeld en is reeds beskikbaar om te stroom op platforms soos YouTube en Netflix.

“Ons ontwikkel DStv Now voortdurend en 4K-stroming sowel as apps vir slimtelevisies en Apple TV kom binnekort,” sê Mark Rayner, MultiChoice se bedryfshoof in Suid-Afrika, in ’n verklaring.

Dit is nog nie bekend presies wanneer 4K-stroming vir kykers beskikbaar gaan wees nie, maar ’n woordvoerder vir die maatskappy het aangedui dit sal “binne die volgende paar maande” gebeur.

Showmax, wat ook deur MultiChoice besit word, oorweeg tans ook 4K, maar dit sal eers heelwat later op die platform geïmplementeer word.

MultiChoice het  in Mei bekend gemaak DStv beplan om sy stroomdiens afsonderlik beskikbaar te stel vir mense wat nie op die volle Premium-pakket ook wil inteken nie.

Dit vorm deel van die maatskappy se poging om die impak wat stroomdienste soos Netflix op sy wins het, teen te werk.

DStv Now op Android, iOS en aanlyn bied aan kykers reeds toegang tot regstreekse uitsendings van al die DStv-kanale sowel as televisiereekse en flieks, maar dit is gekoppel aan ’n DStv Premium-pakket.

Volgens MultiChoice is sportkanale verreweg die gewildste op DStv Now, veral nou tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

“Die gebruik van die app op weeksdae het met 60% gestyg sedert die begin van die toernooi,” sê die maatskappy in ’n verklaring.

Die meeste mense het gelyktydig na die wedstryd op 26 Junie tussen Nigerië en Argentinië gekyk.

DStv Now was egter onder veel erger druk vroeër die maand toe die Springbokke hul tweede toets teen Engeland op dieselfde tyd as ’n Wêreldbeker-sokkerwedstryd gespeel het.

“Die hoeveelheid kykers gelyktydig op die app was daardie dag sewe keer meer as die vorige hoogtepunt in Julie verlede jaar.”

Hisense se nuwe lasertelevisie saai beelde teen ’n hoë definisie uit op enige plat oppervlak. Maar dit kos wel R150 000. Foto: Verskaf

Wat benodig jy vir 4K?

Ultra-hoëdefinisie beeld is nog ’n relatiewe nuutjie in Suid-Afrika en min Suid-Afrikaners beskik oor die nodige tegnologie om dit te kan gebruik.

Eerstens sal jy ’n 4K-televisie benodig, soos Hisense se nuwe 4K Laser-televisie wat ’n astronomiese R150 000 kos. Daar is goedkoper alternatiewes.

Daarbenewens sal jy ook ’n blitsvinnige internetverbinding kort van minstens 25 megagrepe per sekonde.

En natuurlik ook onbeperkte data, want 4K-stroming blaas deur byna 7 gigagrepe vir elke uur van programme kyk.

Meer oor:  Dstv  |  Dstv Now  |  Tegnologie  |  Stroming  |  Televisie  |  Ultra-Hoëdefinisie  |  4K
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.