Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Min sport: DStv Premium verloor 100 000 intekenare

Selfs al was daar nie veel sport verlede jaar nie, het MultiChoice dit steeds reggekry om sy intekenare en wins te groei. Hy het egter weer vanjaar intekenare op sy duurste pakkette – juis dié wat die beste sportkanale insluit – verloor.

DStv Premium het 100 000 intekenare verloor. Foto: Unsplash

MultiChoice het Woensdag sy resultate vir die jaar tot einde Maart 2021 bekend gemaak.

Ten spyte van die Covid-19-pandemie het sy getal intekenare in Suid-Afrika steeds gestyg, met 6% oftewel nagenoeg 500 000 mense, tot 8,9 miljoen intekenare.

Die groep het ook die tweede hoogste aantal intekenare in sy bestaan gehaal.

Die groep se aantal intekenare in al sy markte het met 1,4 miljoen huishoudings of 7% tot 20,9 miljoen gestyg. Dit word verdeel tussen die 8,9 miljoen in Suid-Afrika en 11,9 miljoen in die res van Afrika.

MultiChoice raam dat hy nou 100 miljoen mense bereik.

Die twee duurste pakkette, Premium en Compact Plus, het sowat 100 000 intekenare verloor en van 1,5 miljoen tot 1,4 miljoen gedaal. Dit verteenwoordig nou sowat 16% van intekenare, teenoor 18% verlede jaar.

Die groei in intekenare het gehelp om die groep se handelswins met 28% tot R10,3 miljard te laat styg.

“Die pandemie het ons meer geleer oor wat moontlik is,” sê Calvo Mawela, uitvoerende hoof.

“Ons het die jaar begin met ernstige ontwrigting van ons programskedules, swak makro-ekonomiese voorspellings vir baie van ons markte en swakker geldeenhede.

“In die lig van dié uitdagings het ons spanne saamgespan en hard gewerk om doelwitte te bereik en om meer waarde aan ons aandeelhouers te bied deur ’n dividend van R2,5 miljard te verklaar.”

Dit kom neer op R5,65 per aandeel voor belasting.

Stromingsdienste

Die Connected Video-gebruikers op die DStv-app en Showmax het die afgelope jaar met 39% gegroei. MultiChoice maak nie die aantal intekenare vir dié dienste bekend nie.

Sportregte

Die groep het bekend gemaak dat hy vanjaar weer die regte bekom het vir die Engelse Premierliga en UEFA Champions League en ook die uitsaairegte vir die 2022 Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar verseker het.

Die uitstel van die groot toernooie verlede jaar beteken die groep is ook verseker van ’n vertraging van R1,1 miljard in sportregtekoste, wat nou in die volgende boekjaar bygevoeg sal word.

Netflix, ander

Die groep hou steeds goeie betrekkinge met internasionale ateljeevennote en intekenare het toegang tot Netflix, Amazon Prime, en YouTube via die Dstv Explora Ultra-dekodeerder.

Plaaslike inhoud

Ondanks stakings van produksie en reisbeperkings wat die pandemie meegebring het, het die groep 19% meer plaaslike inhoud opgelewer as verlede jaar, met altesame 4 567 uur se inhoud.

As gevolg hiervan oorskry die totale plaaslike inhoudsbiblioteek nou 62 000 uur. Sowat 42% van die groep se algemene besteding aan vermaak was aan plaaslike inhoud en hy bly op koers om sy teiken van 45% teen 2022 te bereik.

Meer oor:  Dstv  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Intekenare  |  Tv  |  Sport  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.