Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
DStv sê jammer na probleme met Bokke se wedstryd

DStv Now moes Saterdag gedurende die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks bontstaan met verskonings aan kliënte toe die stromingsdiens onderbreek is.

Tech Central het berig “DStv drops the ball on Springboks vs All Black Streaming”.

Mense was ook ongelukkig omdat DStv spesifiek geadverteer het dat die wedstryd ook op DStv Now gestroom word.

Dié webtuiste het berig MultiChoice-intekenaars was woedend toe die stromingsdiens ineengestort het tydens die Wêreldbekerwedstryd.

Nog ’n tegnologienuusdiens mybroadband.co.za het berig “DStv Now hit by downtime”.

Business Insider se berig het uitbasuin: “‘Sorry about that’: DStv streaming drops Springbok fans during first Rugby World Cup match against New Zealand”.

MultiChoice het die uitsaairegte vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.

Die SAUK mag sekere wedstryde oor die radio uitsaai.

LEES OOK: Jammer, luister maar oor die radio

Volgens Tech Central is die probleem blykbaar veroorsaak deur te veel kliënte wat probeer het om vir die eerste keer op die stelsel in te gaan.

Ons span ingenieurs het voor die rugby onvermoeid gewerk om voorberei te wees vir ’n rekord getal kykers aanlyn.
Multichoice

’n Woordvoerder van MultiChoice het aan Tech Central beloof om Maandag ’n uiteensetting van die redes vir die probleem te verskaf.

Netwerk24 het ook vrae aan MultiChoice se woordvoerder gestuur soos: wat dit veroorsaak het, hoeveel mense geraak is, hoe so ’n probleem voorkom gaan word en waar intekenaars advies kan kry indien dit wel weer gebeur.

Die woordvoerder van MultiChoice het in reaksie ’n verklaring uitgestuur waarin verskoning gevra is aan die DStv Now-kliënte wat nie in staat was om die Springbok-wedstryd teen die All Blacks te kyk nie.

“Die kliënte wat voor die wedstryd begin het, aangemeld het, kon die wedstryd sonder probleme kyk. Maar die probleem is veroorsaak met ’n instroming van mense wat vir die eerste keer aangemeld het, wat elkeen geverifieer moes word, en dit het ’n vertraging veroorsaak.”

“Ons span ingenieurs het voor die rugby onvermoeid gewerk om voorberei te wees vir ’n rekord getal kykers aanlyn.”

Die maatskappy het egter nie verduidelik hoekom daar steeds probleme ondervind is na dié voorbereiding nie.

Op sosiale media het DStv bloot aan mense gesê: “Ons tegnologiespan is ingelig oor die probleem en dit is opgelos”.

Geen verduideliking vir die probleem is sover daar vasgestel kan word verskaf nie.

Ndaba ko Mkhulu het sowat 11:48 op Twitter gekla dat DStv Now opgehou werk het.

Business Insider het berig die webtuiste downdector.co.za het getoon hoe ’n skerp toename in klagtes tydens die rugby ontvang is.

Die verbruikersjoernalis Wendy Knowler het op Twitter gesê sy is ’n Premium-intekenaar en kan nie die rugby op haar skootrekenaar stroom nie.

Nog ’n kliënt Tammy Tequila Daniel het gekla sy kan nie die rugby kyk nie.

Starbo Maphalle het ook sy frustrasie te kenne gegee.

Dit was egter nie net Suid-Afrikaners wat sonder ’n diens gelaat is Saterdag nie.

Ook in Nieu-Seeland was rugby-ondersteuners woedend toe Spark Sport daar se stroming van die wedstryd onderbreek is.

Dié uitsaaidiens moes die dekking van die wedstryd na die aanlyn-uitsaaidiens TVNZ verskuif nadat baie kykers nie sy stromingsdiens meer kon gebruik nie, het Stuff.co.nz berig.

Meer oor:  Dstv Now  |  Multichoice  |  Rugby  |  Springbokke  |  Stroomdiens  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.