Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Duisende by Tesla verloor hul werk
Tesla het 3 000 personeellede afgelê in ’n poging om winsgewend te word. Foto: Reuters

Tesla, die Amerikaanse vervaardiger van elektriese motors, gaan sowat 3 000 poste sny in ’n poging om die maatskappy winsgewend te maak.

Dit verteenwoordig 9% van sy totale arbeidsmag, sê Elon Musk, Tesla se uitvoerende hoof, in ’n interne e-pos.

Musk het dié e-pos, waarin hy die afdankings probeer regverdig, op Twitter gedeel. Hy beskryf die afleggings as ’n “baie moeilike besluit,” maar een wat nodig is om te verseker dat Tesla uiteindelik winsgewend sal word.

“Gegewe die feit dat Tesla nog nie een keer in sy bestaan van 15 jaar ’n wins getoon het nie, is dit vanselfsprekend nie wat ons dryf nie,” skryf Musk.

“Ons word eerder aangespoor deur die roeping om die wêreld gouer oor te haal om meer volhoubare, skoon energie te gebruik. Dit is egter onbereikbaar indien ons nie uiteindelik kan wys dat ons winsgewend kan wees nie.”

Tesla het sowat 37 000 mense in diens. Diegene wat afgelê word, sluit niemand op produksievlak in nie. Met ander woorde, geen personeellede wat Tesla help om sy produksieteiken van 5 000 Model 3-motors per week te bereik, word geraak nie.

Musk het verlede week bevestig dat dié teiken steeds teen die einde van Junie bereik sal word.

Tesla se aandeelprys het Woensdag met tot soveel as 7% gestyg nadat die afleggings aangekondig is. Musk sê op Twitter hy deel sy interne e-pos aangesien dit reeds aan die media uitgelek het.

Volgens Efraim Levy, ’n ontleder by CFRA Research, sal daar na verwagting nie in die nabye toekoms weer afleggings by Tesla wees nie. Veral nie indien die maatskappy vroeg in 2019 nog kapitaal insamel nie.

“Al word Tesla winsgewend in die derde en vierde kwartaal van vanjaar, sal dit nie volhoubaar wees nie omdat hy sy produksieteiken sal moet opstoot,” sê Levy. “Die afleggings kan hom help om op kort termyn winsgewend te word, maar nie om dit vol te hou nie.”

Tesla is vinnig besig om sy kontantreserwes uit te put in ’n poging om sy monteerlyn te verbeter sodat hy sy produksieteikens kan behaal.

Die maatskappy se kontantvloei is glo reeds meer as $1 miljard in die rooi.

Bykomende bron: Reuters

Meer oor:  Tesla  |  Elon Musk  |  Tegnologie  |  Tegnologiemaatskappye  |  Elektriese Motor  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.