Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
E-handel: Jy (én die koerier) moet ’n masker dra

Jy en almal in jou huishouding móét ’n masker dra wanneer ’n koerier met ’n pakkie by jou huis opdaag.

E-handelaars soos Takealot het ’n lang lys reëls waaraan hulle moet voldoen om gedurende die inperkingstyd produkte te mag aflewer.

Dit is maar een van die vele reëls en regulasies waaraan e-handelaars (en diegene wat van hulle gebruik maak) in die tyd van inperking moet voldoen.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het net meer as ’n week gelede gesê enige item – afgesien van alkohol en tabakprodukte – kan nou aanlyn bestel en afgelewer word.

Dié vergunning kom egter met ’n string voorwaardes, sommige logies terwyl ander op die oog af niks meer as absurd is nie.

Die regulasies bepaal byvoorbeeld dat die koerier te alle tye minstens 1,5 m van die persoon af moet wees by wie se huis die items afgelewer word. Maar die regulasies sit nie uiteen hoe die pakkie dan deur die ontvanger hanteer moet word nie.

Volgens die regulasies moet die ontvanger die pakkie “soos voorgeskryf deur die e-handelaar” behoorlik ontsmet.

Dit is onduidelik of hierdie regulasie na die houer waarin die item verskeep is of na die item self verwys.

E-handelaars moet wel alle items “behoorlik ontsmet” voordat dit hul pakstore verlaat.

Pakstoorwerkers mag ook nie nader as 1,5 m aan enige koerier kom nie. Sogenaamde “optel-protokols” moet ingestel wees om te verseker dié afstand te alle tye gehandhaaf word.

Koeriers moet ook te alle tye ’n gesigmasker dra – van die oomblik wanneer hulle die pakstore verlaat totdat die pakkie afgelewer is.

Die regering het ook gelas dat e-handelaars “in soverre moontlik” van plaaslike verskaffers gebruik moet maak om die “maatskaplike en ekonomiese swaarkry” op plaaslike ondernemings weens die Covid-19-pandemie te verlig.

Daarom moet e-handelaars ook meer betaalmetodes instel sodat meer mense toegang tot aanlyn bestellings kan hê. Voorkeur moet aan “kontaklose” betaalmetodes eerder as aan kontant by aflewering gegee word.

Enige werker, hetsy by die e-handelaar of by die koerierdiens, wat ’n koors van 37,5 °C of meer het, moet in isolasie gaan.

Indien die persoon se koors ná ’n tweede lesing steeds so hoog is, moet hulle huis toe gestuur word en in selfkwarantyn gaan.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  E-Handelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.