Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
E-handel skiet die hoogte in

Winkelsentrums se tydelike dood in 2020 was aanlyn inkopies se brood en e-handel het met ’n allemintige 66% in Suid-Afrika toegeneem.

E-handel is besig om beduidend te groei in Suid-Afrika. Foto: istock

’n Verslag wat World Wide Worx die afgelope week in samewerking met Mastercard, Standard Bank en Platinum Seed bekend gemaak het, toon aanlyn inkopies het in 2020 R30,3 miljard beloop – van net meer as R14 miljard in 2018.

“Die groei wat in 2020 behaal is, is 50% hoër as wat drie jaar terug voorspel is,” sê Arthur Goldstuck, stigter van World Wide Worx en hoofontleder van die navorsing.

Terwyl aanlyn inkopies in 2018 slegs 1,8% van totale kleinhandel uitgemaak het, sal dit vanjaar klim tot 4% en na verwagting R42 miljard beloop.

Met die uitbreking van Covid-19 en die inperkings het Suid-Afrikaners se vraag na huisaflewerings die hoogte ingeskiet. Verbruikers was in die verlede traag om e-handel te probeer, maar omdat hulle nie winkels fisiek kon besoek nie of te bang was om dit te doen, het hulle die sprong tot aanlyn inkopies gemaak. En dit is nie net ’n gril nie; in November 2020 het Mastercard se navorsing gewys dat 71% van deelnemers aan ’n peiling gesê het hulle sal voortgaan om aanlyn te koop.

World Wide Worx het onder meer Takealot en Woolworths-aanlyn se geweldige groei in aanlyn transaksies as gevallestudies gebruik vir sy navorsing. Takealot se verkope het in die derde kwartaal van 2020 met 85% toegeneem. Selfs Woolworths, wat volgens Goldstuck minder gerat was vir die toename in aflewerings as byvoorbeeld Checkers, het in die eerste ses maande van 2020 groei van byna 88% in aanlyn verkope aangemeld.

Tradisionele kleinhandel – waar verbruikers fisiek in winkels inkopies doen – het in 2020 ’n insinking beleef. Voorlopige syfers van Statistieke Suid-Afrika toon dat tradisionele kleinhandel teen huidige pryse die afgelope jaar met 4,2% gedaal het.

“Die skerp daling in tradisionele kleinhandel is onmiddellik aangegryp as ’n geleentheid vir enigiemand wat in staat was om aanlyn te verkoop,” sê Goldstuck.

Van 2016 tot 2019 was kwartaallikse kleinhandelsyfers bo die R80 miljard-kerf. Die tradisionele kleinhandelsektor was stagnant. In 2020 is totale kleinhandel gehalveer.

World Wide Worx se verslag toon ook dat meer ouer mense deesdae aanlyn koop. Die ingesteldheid teenoor aanlyn inkopies is oor alle ouderdomsgroepe heen meer positief.

“ ’n Interessante bevinding is dat mense ouer as 65 skielik sê: ‘Ons tyd het aangebreek!’ Nie soseer omdat hulle daarvan hou om aanlyn te wees nie, maar omdat dit veel geriefliker is agter jou rekenaarskerm as om deur die winkelgange te ploeg.”

World Wide Worx het in sy verslag gaan kyk na die aanlyn kooppatrone van Suid-Afrikaners oor alle inkomstekategorieë heen. Goldstuck sê dit klink vreemd dat mense wat R2 000 tot R2 500 per maand verdien ook aanlyn koop, maar dit is dikwels studente, wat nie hul eie geld gebruik vir e-handel nie.

Daar is ’n sterk verband tussen opleidingsvlak en aanlyn inkopies. Altesame 15% van mense met primêre skoolopleiding koop aanlyn en dit styg tot 26% vir mense met sekondêre opleiding en skiet op tot 39% wanneer mense die een of ander vorm van naskoolse opleiding het.

Die stewige groei in aanlyn inkopies lui allermins die doodsklok vir fisieke winkels. Volgens Goldstuck het die Sandton City-winkelsentrum vanjaar sy besigste Maart in vyf jaar beleef.

Meer oor:  Internet  |  Kleinhandel  |  E-Handel  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.