Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
E-winkels (se webwerwe) ‘gereed’ vir Swart Vrydag
E-handelaars soos OneDayOnly.co.za sê hulle is ‘slaggereed’ vir die toestroming van besoekers na hul webwerwe op Swart Vrydag. Foto: Unsplash

Die aantal gretige winskopiejagters wat vanjaar op Swart Vrydag virtuele winkels se drempels deurtrap, gaan na verwagting weens die koronaviruspandemie nuwe hoogtes bereik.

Tog sê e-handelaars soos OneDayOnly.co.za hy is “slaggereed” vir die toestroming van besoekers na sy webwerf.

Swart Vrydag is berug daarvoor dat e-handelaars se webwerwe ineenstort omdat te veel mense dit op een slag probeer besoek.

Om dit te keer, het OneDayOnly.co.za se ingenieurs die webwerf se vermoë vergroot om heelwat meer gebruikers op ’n slag toe te laat.

Matthew Leighton, woordvoerder, sê hulle verwag minstens dubbel soveel verkeer op Swart Vrydag vanjaar in vergelyking met verlede jaar.

“Ons het ons infrastruktuur verbeter om die toename te kan hanteer,” sê hy.

“Dit behoort ’n gladde, naatlose inkopie-ervaring vir almal tot gevolg te hê ongeag die getal besoekers op die webwerf.”

LEES OOK: Wie koop wat aanlyn in SA?

Webwerwe is ontwerp om net ’n sekere getal gebruikers per sekonde te kan bedien. Dit staan as die webwerf se deurvoer (throughput) bekend en word in gigagrepe per sekonde gemeet.

Om te verseker sy webwerf bly staande sou OneDayOnly.co.za sy deurvoer aansienlik vir Swart Vrydag moes verhoog.

Die onvoorspelbaarheid van 2020 maak dit egter moeilik vir e-handelaars om te voorspel met hoeveel verkeer gaan toeneem. Daar moet dus vir verskeie moontlikhede voorsiening gemaak word.

Daarvoor gebruik OneDayOnly.co.za ook ’n onderliggende glyskaal wat outomaties sal aanpas soos wat die verkeer na sy webwerf op die dag toeneem.

Dit maak dit moontlik om die verkeer op ’n dinamiese wyse te hanteer sonder dat die hele webwerf lank van lyn is omdat dit ineengestort het.

Suid-Afrikaners koop reeds sedert die begin van die staat van inperking in Maart al hoe meer inkopies aanlyn.

swart vrydag

In ’n peiling het 68% van die respondente aan Mastercard gesê hulle koop nou meer goedere aanlyn as tevore.

“Dit wys hoe vinnig kopers begin het om weg te beweeg van kontant na kontaklose betaalmetodes,” sê Mastercard.

Verkope op OneDayOnly.co.za het sedert die begin van die jaar reeds met 128% toegeneem.

Takealot, wat ook die kosafleweraar Mr D Food en ’n deel van die aanlyn klerewinkel Superbalist besit, se totale waarde van verkope het in die ses maande tot einde September met ’n ongelooflike 85% tot sowat R6,26 miljard toegeneem.

Takealot het nog nie op Netwerk24 se versoek vir kommentaar oor sy planne vir Swart Vrydag gereageer nie.

In 2018 het dié e-handelaar, Suid-Afrika se grootste, meer as R87 miljoen se verkope in net agt uur op Swart Vrydag aangeteken. Sy webwerf en app was wel vroeg daardie dag vir bykans 40 minute buite werking omdat sy kredietkaartdiensverskaffer nie die toestroming van kopers kon hanteer nie.

Sy webwerf en betalingsmetodes het in 2019 wel staande gebly.

In ’n blitspeiling van Netwerk24 het 20% van die lesers wat daaraan deelgeneem het aangedui hulle sal oorweeg om vanjaar aan Swart Vrydag deel te neem, maar dan net aanlyn.

Meer oor:  Takealot  |  Onedayonly.Co.Za  |  Webwerwe  |  Aanlyn  |  Tegnologie  |  Swart Vrydag  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.