Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Elon Musk se twiet oor Tesla word ondersoek
Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla en direkteur van SpaceX. Hy is ’n gebore Suid-Afrikaner. Foto: Bloomberg

Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) bekyk Elon Musk se twiet wat vandeesweek uitgestuur is oor ’n moontlike denotering van Tesla.

Die markowerheid sal probeer bepaal of Musk die waarheid gepraat het toe hy op Twitter gesê het hy het finansiering verkry om ander beleggers in Tesla uit te koop sodat die maatskappy gedenoteer kan word.

Dit kan een van die grootste transaksies van sy soort in die geskiedenis wees.

Tesla is op Nasdaq in New York genoteer.

The Wall Street Journal het Woensdag berig die SEC ondersoek die twiet om te bepaal of dit korrek is en hoekom Musk verkies het om dit op sosiale media bekend te maak en nie deur ’n amptelike verklaring aan beleggers nie.

Musk het op Twitter gesê hy oorweeg dit om Tesla in ’n private maatskappy te omskep en dat hy die finansiering daarvoor verkry het.

Om dit te kommunikeer as hy nie absoluut seker is hy het die finansiering verkry nie, kan op markmanipulasie neerkom.
Keith Higgens

Hy sê hy beplan om $420 per aandeel te betaal.

Dit het beleggers verras.

Die SEC het bepaal maatskappye kan sosiale media gebruik om wesenlike inligting bekend te maak wat moontlik die aandeelprys kan beïnvloed.

Regskenners waarsku dat Musk in die moeilikheid kan wees as dit onwaar is dat hy finansiering verkry het.

Ná die twiet het Tesla se aandeelprys 11% hoër gesluit.

Beleggers het gewonder of Musk die SEC se reëls oortree het en dit het regskenners laat skarrel om meer te leer oor ’n obskure SEC-besluit wat as die Reed Hastings Rule bekendstaan.

Die uitspraak van die SEC oor die gebruik van sosiale media om wesenlike inligting openbaar te maak het in Julie 2012 plaasgevind toe Reed Hastings, Netflix se uitvoerende hoof, op Facebook gesê het die gebruik van hul videodiens het vir die eerste keer die kerf van “1 miljard uur” verbygesteek. Die SEC het bepaal Hastings gaan nie vervolg word nie en het verklaar dat die meeste sosiale media “geskik” is vir die kommunikasie van inligting van ’n maatskappy solank beleggers in kennis gestel word daarvan en die toegang daartoe nie beperk is nie.

Musk het al voorheen Twitter gebruik om inligting oor sy maatskappye te kommunikeer.

“Om dit te kommunikeer as hy nie absoluut seker is hy het die finansiering verkry nie, kan op markmanipulasie neerkom,” sê Keith Higgens, ’n vennoot van Ropes & Gray, wat voorheen die hoof van die SEC se afdeling vir korporatiewe finansiering was.

Dit is buitengewoon. Ek is nie bewus van enige ander keer wat die stigter van ’n maatskappy van plan was om ’n openbare maatskappy te denoteer en dit op Twitter aangekondig het nie.
Paul Scrivano

Judith Burns, ’n woordvoerder van die SEC, wou nie kommentaar lewer nie.

Tesla het ook nie kommentaar gelewer nie.

Tesla het nie enige bronne vir die finansiering bekendgemaak nie.

Direkteure van Tesla het 24 uur ná die twiet gesê hulle is verlede week ingelig van Musk se plan. Dit het nog vrae oor ander SEC-reëls laat ontstaan.

Maatskappye is veronderstel om deur middel van ’n 8-K-vorm aandeelhouers van groot gebeure in te lig. Vir baie wesenlike gebeure het maatskappye vier werkdae om dié inligting bekend te maak.

“Die belangrike saak is of die inligting korrek is of nie,” sê Ira Matetsky, ’n vennoot van Ganfer & Shore in New York.

Stephen Crimmins, ’n voormalige prokureur van SEC, wat nou ’n vennoot van Murphy & McGonigle is, meen dit het waarskynlik nie op markmanipulasie neergekom nie.

“Hy is ’n uitvoerende hoof wat positiewe dinge oor sy maatskappy sê en dat hy die vermoë het om ’n oorname na te jaag,” sê Crimmins.

Sommige regskenners sê daar is nie vorige voorbeelde van ’n uitvoerende hoof wat ’n stelling soos Musk s’n gemaak het terwyl die mark oop was nie.

“Dit is buitengewoon,” sê Paul Scrivano, ’n internasionale hoof van verkrygings en samesmeltings van Ropes & Gray.

“Ek is nie bewus van enige ander keer wat die stigter van ’n maatskappy van plan was om ’n openbare maatskappy te denoteer en dit op Twitter aangekondig het nie.” – Bloomberg.

Meer oor:  Nasdaq  |  Tesla  |  Securities And Exchange Commission  |  Sec  |  Elon Musk  |  Twiet  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.