Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
En SA se beste selfoonnetwerk is...
MTN word beskou as Suid-Afrika se beste netwerk. Foto: Unsplash

MTN is deur nóg ’n onafhanklike studie as Suid-Afrika se beste selfoonnetwerk aangewys.

Die Duitse konsultasiefirma Umlaut het vir twee weke Suid-Afrika deurkruis en die vier grootste selfoonnetwerke in stede, dorpe en op die vernaamste hoofpaaie getoets en punte gegee.

MTN kraai koning met ’n finale punt van 883, gevolg deur Vodacom met 769. Dié punt is uit 1 000.

Cell C en Telkom trek albei aan die agterspeen met ’n finale punt van onderskeidelik 579 en 536.

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat MTN deur Umlaut as Suid-Afrika se beste mobiele netwerk aangewys word.

Die konsultasiefirma doen elke jaar ’n veelvlakkige toets van die gehalte van plaaslike selfoonnetwerke oor ’n tydperk van twee weke.

In daardie tyd lê Umlaut 18 000 km landwyd af en toets selfoonnetwerke in verskeie dorpe, stede en langs hoofpaaie op grond van die gehalte van data en stemoproepe.

’n Afsonderlike afdeling van die toets behels ook om inligting van skares, sogenaamde crowdsourcing, oor ’n tydperk van ses maande te versamel.

Die finale punt (uit 1 000) is as volg bereken:

  • 32% – gehalte stemoproepe (punt uit 320)
  • 48% – gehalte van dataoordrag (punt uit 480)
  • 20% – inligting van skares versamel (punt uit 200)
selfoonnetwerk

MTN het die beste in al drie dié afdelings gevaar.

Daarteenoor het Cell C en Telkom weer ’n besonder vrot punt in elke afdeling behaal.

Umlaut se punt vir stemoproepe op die Telkom-netwerk langs die land se hoofpaaie, is ’n powere 20%. Cell C s’n beloop 25%.

Selfs in stede het albei dié netwerke baie swak gevaar met ’n punt van 40% vir Cell C en 42% vir Telkom wat stemoproepe betref.

Die gehalte van dataoordrag was ietwat beter op onderskeidelik 58% (Cell C) en 54% (Telkom) in stede.

Interessant genoeg is MTN die enigste netwerk wat beter in stede eerder as kleiner dorpe gevaar het.

Die beste gehalte van stemoproepe op die MTN-netwerk is in stede bespeur. In die geval van Vodacom, Cell C en Telkom is ’n beter gehalte stemoproep in dorpe gesien.

Giovanni Chiarelli, tegnologiehoof van MTN in Suid-Afrika, sê die diensverskaffer is “verheug” dat sy “aansienlike belegging” in sy mobiele netwerk vrugte afwerp.

MTN belê gemiddeld R11 miljard per jaar om sy netwerkinfrastruktuur op te gradeer.

In die laaste paar maande word daar ook groot bedrae geld bestee om die uitwerking van beurtkrag op sy netwerk teen te werk.

Umlaut se toets is juis uitgevoer in ’n tydperk vroeg in Februarie vanjaar waartydens Suid-Afrika onder byna daaglikse kragonderbrekings deurgeloop het.

Diensverskaffers sukkel in sulke tye om behoorlike konnektiwiteit te verskaf, deels omdat rugsteunkrag by selfoontorings gevandaliseer of gesteel word.

LEES OOK: Sonder selfoonsein? Dis sindikate se skuld

Tog het MTN se netwerk die toets geslaag om deur Umlaut as Suid-Afrika se “beste selfoonnetwerk” verklaar te word.

“Ons intekenare soek en verdien die heel beste. Ons is baie trots dat ons gehalte en dekking kan bied waarby geen ander diensverskaffer kan kers vashou nie,” sê Chiarelli.

MTN is ook in Januarie weer deur MyBroadband as Suid-Afrika se vinnigste selfoonnetwerk aangewys.

Volgens MyBroadband se data is ’n gemiddelde aflaaispoed van 40,64 Mbps op die MTN-netwerk behaal. Vodacom was in die tweede posisie met ’n gemiddelde aflaaispoed van 32,23.

Cell C het die swakste uit al die netwerke gevaar.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk  |  Diensverskaffer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.