Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
EOH bevestig 8 werkers het firma jare lank besteel
Stephen van Coller, uitvoerende hoof van EOH.

In ’n stem wat effens bewe het Stephen van Coller, die beleërde tegnologiemaatskappy EOH se uitvoerende hoof, Dinsdag tydens ’n mediakonferensie erken minstens agt werknemers word betrek by jarelange onetiese sakepraktyke en “verdagte betalings” van nagenoeg R1,2 miljard.

Hierdie transaksies, wat tenderknoeiery en die uitruil van gunsies insluit, is tussen 2014 en 2017 uitgevoer.

Die bedrog is beperk tot ’n enkele filiaal van die maatskappy, EOH Mthombo, wat sake met die staatsektor doen.

Van Coller het nie uitgewei oor watter entiteite voordeel uit die sogenaamde onetiese sakepraktye getrek het nie.

Daar word wel beweer dat EOH Mthombo ’n kontrak van R120 miljoen op ’n onvanpaste wyse met die Suid-Afrikaanse departement van verdediging aangegaan het.

Onetiese sakeverhoudinge met Eskom is ook bespeur.

Hoewel die bedrog van R1,2 miljard neerkom op sowat R300 miljoen ’n jaar, meen Van Coller dit is “nie te sleg nie” as daar in ag geneem word EOH se totale omset is sowat R18 miljard per jaar.

Hy meen ook dit is noemenswaardig dat net een filiaal uit die 270 wat EOH bedryf by die bedrog betrek word.

Hoewel die bedrog van R1,2 miljard neerkom op sowat R300 miljoen ’n jaar, meen Van Coller dit is “nie te sleg nie” as daar in ag geneem word EOH se totale omset is sowat R18 miljard per jaar.

Van Coller het Dinsdag die fluitjieblasers wat die korrupsie oopgevlek het, bedank. Hy het erken die maatskappy het tot onlangs nie prosesse gehad vir werknemers om onetiese gedrag deur kollegas anoniem aan bestuur te rapporteer nie.

Sulke prosesse is nou ingestel, sê hy.

Daarbenewens word groot betalings nou deur twee afsonderlike afdelings behartig, een wat dit goedkeur en ’n ander wat die uiteindelike betaling uitvoer.

’n Groot deel van die bedrog is gepleeg deur die indien van vervalste of oordrewe fakture waarvolgens verskaffers heelwat meer betaal is as wat hulle verdien het vir die produk of diens gelewer.

Tog sê Van Coller van die verdagte betalings was wel geldig, en die maatskappy gaan nou daardeur sif om die koring van die kaf te probeer onderskei.

Die adviesfirma ENSafrica hanteer die ondersoek.

EOH gaan ook die betrokke werknemers strafregtelik vervolg en siviele eise indien teen die maatskappye wat, volgens Van Coller, EOH se koffers leeggedra het.

Die uitvoerende hoof sê die maatskappy hoop om só van die verlore geld terug te kry.

Die bedanking Maandag van drie direkteure moet ook nie onder verdenking geplaas word nie, sê Van Coller.

Pumeza Bam, Zunaid Mayet en Rob Godlonton het Maandag hul bedanking aangekondig.

Volgens Van Coller word hulle nie by enige van die ongerymdhede betrek nie, maar “soos Nhlanhla Nene, eertydse minister van finansies” het hulle bedank omdat die beweerde korrupsie onder hul toesig plaasgevind het.

Van Coller meen dit is ’n teken van goeie leierskap dat die drie direkteure bedank het ten einde “plek te maak” vir ander direkteure om die maatskappy deur die krisis te bestuur.

Hoewel daar ’n vraag-en-antwoord-sessie was ná van Van Coller se toespraak, is dit nie op die maatskappy se webblad uitgesaai nie.

Trouens, EOH se webblad, waarop die voorlopige verslag rakende die bedrog gepubliseer is, het Dinsdag probleme gegee en was teen 10:20 steeds ontoeganklik.

EOH het Dinsdag teen R19,50 verhandel, 11% laer as ’n dag gelede.

Meer oor:  Eoh  |  Eoh Holdings  |  Tegnologie  |  Bedrog  |  Maatskappye  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.