Die tegnologiemaatskappy EOH het ’n enorme verlies vir die halfjaar tot einde Januarie gely.

Die embleem van die inligtingstegnologiemaatskappy EOH.
Die maatskappy, wat vroeg Dinsdagoggend sy resultate op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer het, se wesensverlies per aandeel beloop R9,73. Dit is teenoor ’n wesensverdienste van R3,14 in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar tevore.
Sy verlies per aandeel beloop R20,73, teenoor die wesensverdienste van R3,20 ’n jaar tevore.
EOH se inkomste het met bykans 1% tot R8,4 miljard gedaal.
Stephen van Coller, uitvoerende hoof van EOH, se belofte dat die maatskappy steeds baie het om aan beleggers te bied én om bevindinge van ondersoeke bekend te maak so ver die wet dit toelaat, het beleggers duidelik tevrede gestel.
Die maatskappy se aandeleprys het kort nadat Van Coller se voorlegging begin het, met ’n stewige 14% tot R14,90 gestyg.
EOH trap die afgelope tyd water nadat daar beweer is hy het op ’n onvanpaste wyse ’n kontrak van R120 miljoen met die Suid-Afrikaanse departement van verdediging aangegaan.
EOH Mthombo, ’n filiaal van EOH, was tot onlangs ’n regstreekse herverkoper van Microsoft-lisensies in Suid-Afrika.
Microsoft het egter sy jare lange ooreenkoms met EOH beëindig weens die beweerde wanpraktyke by die maatskappy.
Van Coller het verduidelik dat die maatskappy hom reeds op verskeie partye beroep het om hom te help om te herstruktureer.
Die Universiteit Stellenbosch se sakeskool help die maatskappy om sy korporatiewe bestuur te hersien en seker te maak die regte prosesse word in die toekoms gevolg.
“PwC het ons ook gehelp om ’n interne oudit op te stel. Ons het dit nooit voorheen gehad nie. Dit gaan ons geweldig help om te verseker die regte prosesse word gevolg,” sê Van Coller.
Rothschild & Co. gaan die maatskappy ook help om die herstrukturering wat hy beplan in bedryf te stel.
Rothschild het Old Mutual onlangs met sy ontknoping bygestaan.
Van Coller sê dat sou die herstrukturering reeds die afgelope halfjaar van toepassing wees, sou sy inkomste wel sowat R1,7 miljard laer gewees het op R6,5 miljard, maar sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) sou sowat R600 miljoen gewees het, teenoor die R387 miljoen wat wel die geval is vir die halfjaar tot einde Januarie.
Syfers
EOH se bedryfsuitgawes het met R2,148 miljard toegeneem as gevolg van eenmalige items. Eenmalige items sluit in waardedaling van bates van R1,719 miljard, ’n IFRS 2-heffing van R157 miljoen wat verband hou met Lebashe Holdco en sy filiale en R146 miljoen vir die verkoop en terugkoop van EOH se ekwiteitsbelegging in Twenty Third Century Systems (TTCS).
TTCS is bedrywig in Zimbabwe en EOH moes weens regskwessies sy belang eers verkoop en toe weer terugkoop. Hy het in dié proses die R146 miljoen-verlies gely.
EOH het steeds bykans R1 miljard kontant beskikbaar. Dit is teenoor die R1,4 miljard ’n jaar tevore.
Die maatskappy se laste beloop R3,2 miljard.
Toekoms
Van Coller sê die maatskappy verwag die res van 2019 gaan ’n uitdagende jaar wees vir EOH.
Dit gaan nie net oor die interne uitdagings wat die maatskappy in die gesig staar nie, maar ook weens die huidige ekonomiese klimaat in die land.
Van Coller sê hulle is veral bekommerd oor die gebrek aan groot infrastruktuurprojekte in die land.