Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
EOH-stigters loop te midde van korrupsie-skandaal
Asher Bohbot, stigter van EOH, is nou nie-uitvoerende voorsitter van die tegnologiegroep.

Twee van EOH Holdings se stigters het Woensdag uit die maatskappy se direksie bedank te midde van voortslepende onsekerheid oor beweerde korrupsie met staatskontrakte.

Luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, het Asher Bohbot, medestigter en voorsitter van die direksie, sy bedanking ingedien.

Rob Sporen, ook ’n medestigter en reeds 20 jaar ’n lid van die direksie, het ook bedank.

Hul bedanking is van 1 Maart van krag.

EOH se aandeelprys het Woensdagoggend met nóg 12% tot onder R13 gedaal.

Sy aandeelprys is reeds 55% laer as einde Januarie toe hy beleggers vir die eerste keer ingelig het oor aantygings van korrupsie in sy kontrakte met Eskom.

Trouens, EOH se aandeelprys het sedert sy hoogtepunt in Augustus 2015 met ’n massiewe 93% gedaal. In vergelyking het Steinhoff se aandeelprys van sy hoogtepunt in April 2016 met 98% tot op hede geval.

Stephen van Coller, EOH se betreklik nuwe uitvoerende hoof, is gewikkel in ’n stryd teen tyd om beleggers te kalmeer en vertroue in die maatskappy te herstel.

EOH se jaarvergadering word Woensdag in Johannesburg gehou.

Behalwe Sporen en Bohbot het prof. Tshilidzi Marwala, wat 11 jaar op die direksie gedien het, en Tebogo Maenetja, uitvoerende hoof van mensehulpbronne, ook uit die direksie bedank.

Maenetja skuif in April na ’n ander maatskappy.

Die maatskappy het Woensdag gemoedere probeer kalmeer en gesê hy “verfris sy direksie” en dat diegene wat bedank het, “baie jare lank” daarop gedien het.

Nuwe direksielede sal na verwagting teen einde Maart aangekondig word.

Intussen het EOH ook aangedui hy het “proaktief begin met ’n interne ondersoek” na sy filiaal EOH Mthombo.

Die Amerikaanse tegnologiereus Microsoft het verlede week gesê hy beëindig ’n jarelange ooreenkoms met EOH Mthombo weens beweerde ongerymdhede by die Johannesburgse tegnologiemaatskappy.

EOH Mthombo is ’n groot herverkoper van Microsoft-lisensies in Suid-Afrika.

In ’n omsigtigheidsverklaring Dinsdag het EOH gesê die Microsoft-kontrak word ondersoek as deel van sy groter interne ondersoek na alle staatskontrakte die afgelope vyf jaar.

’n Fluitjieblaser het in November ’n klag by die Amerikaanse markreguleerder, die Securities and Exchange Commission (SEC), aanhangig gemaak en ook aan Microsoft se direksie geskryf oor beweerde korrupsie met staatskontrakte by EOH.

Dit hou glo verband met ’n kontrak wat EOH by die departement van verdediging gekry het.

Van Coller, voorheen ’n uitvoerende hoof by Absa en MTN, is in 2018 aangestel met die spesifieke doel om die sukkelende EOH uit sy verknorsing te help.

EOH is die grootste tegnologiemaatskappy in Afrika, maar sy bedryfswins het in die jaar tot einde Julie met byna 32% tot R1,187 miljard gedaal.

EOH het Woensdag 12% laer op die JSE op R12,72 verhandel.

Meer oor:  Eoh  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.