Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Experian sê dié sensitiewe inligting is gedeel
Sensitiewe inligting van Experian is in Mei met ’n bedrieër gedeel wat die kredietburo met ’n slap riem gevang het. Foto: Getty Images

Die bankrekeningnommers van nagenoeg 25 000 ondernemings is op die internet gedeel.

“Dit was die mees sensitiewe inligting wat gedeel is,” het die kredietburo Experian aan Netwerk24 gesê.

Sensitiewe inligting is in Mei met ’n bedrieër gedeel wat die kredietburo met ’n slap riem gevang het.

Experian sê die inligting van 24 838 ondernemings is onlangs op die internet gevind, tesame met die inligting van meer as miljoen verbruikers.

Netwerk24 het twee weke gelede berig ’n man wat hom voorgedoen het as ’n direkteur van ’n onderneming wat ’n kliënt van Experian was, het inligting van die kredietburo aangevra. Dis aan hom verskaf.

Die bedrog is eers onthul toe Experian die betrokke persoon in die hande wou kry oor sy uitstaande rekening vir die diens. Toe die betaling nie ontvang word nie, is verdere ondersoek ingestel en is die bedrog onthul.

Sowat 25 miljoen verbruikers en 800 000 ondernemings se inligting is met die persoon gedeel, het banke toe gesê.

Experian het voorheen gesê die verdagte is geïdentifiseer en ’n bevel is gekry om op sy hardeware beslag te lê. Die data wat bekom is, is beveilig en uitgevee.

Vandeesweek het dit egter aan die lig gekom van die data is op die internet beskikbaar.

LEES OOK: Inligting in Experian-datalek beland aanlyn

Volgens Experian het hy met sy “voortgesette ondersoeke” inligting wat hy met die bedrieër gedeel het op die internet opgespoor.

“Ons kan bevestig dat die dokumente wat geïdentifiseer is, dieselfde dokumente is wat aan die bedrieër verskaf is.”

Volgens die kredietburo het sy internasionale kubersekerheidspan die dokumente van die webtuiste verwyder waarop dit gelaai was.

Die span hou aan om die internet vir verdere aktiwiteite te monitor, insluitend die sogenaamde donker web, om te bepaal of die inligting te koop aangebied word.

Die kredietburo het benadruk al die data in die dokumente is nié deur Experian verskaf nie.

Ten opsigte van die inligting oor verbruikers het Experian nie die naam, van en ID-nommer van die verbruikers verskaf nie.

“Die bedrieër moes reeds dié inligting gehad het en dit van elders gekry het, en dit sluit ID-nommers in, asook ondernemings se naam, adres en registrasiedatum.”

Experian hou vol die inligting wat hy oor verbruikers en ondernemings aan die persoon verskaf het, is inligting wat reeds openbaar beskikbaar is.

Experian hou vol die inligting wat hy oor verbruikers en ondernemings aan die persoon verskaf het, is inligting wat reeds openbaar beskikbaar is. “Die meeste van die data wat oor ondernemings gedeel is, is van die registrateur van maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) beskikbaar.”

Volgens Experian is ’n strafsaak teen die persoon by die Valke geopen.

Experian het intussen ’n vraag-en-antwoord-afdeling op sy webtuiste beskikbaar gestel waar mense meer inligting kan kry oor wat presies gebeur het en watter inligting gedeel is. Kontaknommers vir verbruikers en ondernemings wat bekommerd is oor hul inligting, is op dié webblad beskikbaar.

Luidens dié inligting het die bedrieër aan Experian 25 miljoen verbruikers se naam, van en ID-nommer verskaf, waarvan hy toe ekstra inligting wou kry soos kontakinligting en inligting oor die persoon se werk.

Geen finansiële en kredietverwante inligting is aan die persoon verskaf nie.

Ten opsigte van ondernemings is inligting soos maatskappyregistrasienommers, kontakinligting en die kredietprofiel gedeel. Die bankrekeningnommers van amper 25 000 is ook met hom gedeel.

Algemene inligting oor die onderneming, soos die beherende maatskappy, uiteindelike beherende maatskappy, getal personeel en BTW-nommers, is met die persoon gedeel, asook telefoonnommers, pos- en straatadresse, e-posadresse en faksnommers.

Die betrokke ondernemings se banke is geskakel om “abnormale aktiwiteit” te monitor en die ondernemings in te lig.

Die inligting is op 24 en 27 Mei met die persoon gedeel en Experian het 22 Julie bewus geword van die bedrog.

Meer oor:  Experian  |  Kuberaanval  |  Kredietburo  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.