Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
FaceApp: Rede tot kommer of ’n bohaai oor niks?

Sosiale media is die afgelope paar dae vol selfies wat wys hoe gebruikers moontlik vyf dekades van nou gaan lyk.

Die FaceApp neem jou mooie, jonge gesig en wys jou hoe jy oor 50 jaar gaan lyk. Foto: FaceApp

Dié foto’s word deur ’n spesiale app geskep, maar ontlok nou ook kommer weens die groot hoeveelhede data wat dit versamel.

FaceApp gebruik kunsmatige intelligensie om ’n persoon se gelaatstrekke te verouder, kompleet met plooie, kringe onder die oë en ’n bos grys hare.

Dié app, wat deur Russiese programmeerders ontwikkel is, is eintlik geen nuutjie nie.

Hoewel die gewildheid daarvan in die laaste paar dae die hoogte ingeskiet het, is dit reeds etlike jare beskikbaar.

In 2017 het FaceApp ook ’n gier onder sosialemediagebruikers geraak en toe is gebruikers óók deur sekerheidskenners gewaarsku oor die groot hoeveelhede data wat dit versamel.

Tog is daar inherent niks vreemds daaraan dat ’n app gebruikers se inligting insamel nie. Apps soos Facebook, Instagram en WhatsApp doen presies dieselfde.

So waaroor die bohaai?

Kort nadat foto’s van verouderde mense oraloor begin opduik het, is daar gegis dat die FaceApp ál die foto’s op jou foon na ’n Russiese bediener stuur.

Dit is omrede die app nie toestemming vra by eerste gebruik of hy toegang tot jou foon se galery mag kry nie.

Die app identifiseer ook enige selfies in jou galery en bied aan om dit aan te pas.

Elliot Alderson, ’n Franse sekerheidskenner wat onder dié skuilnaam ondersoek instel na watter data apps oor gebruikers versamel, het aan The Guardian gesê hy kon niks vreemds sien aan wat die FaceApp met gebruikers se foto’s doen nie.

Volgens Alderson wys die app se kode hy kry net toegang tot jou foon se galery, maar laai niks foto’s daaruit op na ’n eksterne bediener nie.

Al foto wat wel opgelaai word, is die een wat jy kies om te verouder (of op ander maniere binne die app te wysig).

Alderson meen die histerie oor FaceApp is grootliks oor die Russiese verwantskap.

Verteenwoordigers van FaceApp het Woensdag aan 9to5Mac gesê hy stoor “dalk” van die foto’s wat opgelaai word, maar dat die uiteindelike lêers nie op bedieners in Rusland lê nie, maar elders.

Voorts sê FaceApp hy is ook bereid om enige foto van ’n gebruiker permanent uit te wis as hy versoek word om dit te doen.

Wie besit die regte tot my naam, foto?

Iets wat wel die gevaarligte laat flikker, is dat FaceApp luidens sy bepalings en voorwaardes die onvoorwaardelike reg het om te kom en gaan met jou opgelaaide foto(s) soos hy wil.

In sy gebruiksaanwysings stel FaceApp dit duidelik hy het die reg om jou foto te gebruik, te wysig, te publiseer óf te verkoop tot in lengte van dae sonder om jou ooit ’n sent daarvoor te betaal.

Dit mag ook jou naam met jou foto assosieer en dié inligting as ’n pakket kommersialiseer.

Kortom beteken dit FaceApp kan teoreties die derduisende foto’s van gesigte met hul meegaande name aan entiteite, waaronder regerings, verkoop wat dit dalk vir elektroniese waarneming kan gebruik om op burgers te spioeneer.

Jy stem in tot al hierdie bepalings die oomblik wanneer jy die app begin gebruik.

Hoewel FaceApp jou inligting kán verkoop, het die app gesê hy sal dit nie aan derdepartye smous nie.

As gebruiker is jou enigste verweer om te besluit of jy dié Russiese organisasie gaan vertrou om woord te hou en nie jou persoonlike inligting, waaronder jou gesig, naam en gebruikersnaam, aan organisasies wêreldwyd gaan smous nie.

Meer oor:  Facebook  |  Tegnologie  |  Faceapp  |  Apps  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.