Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook aangevat oor opgeblase kyksyfers
Facebook se hoof, Mark Zuckerberg. Foto: Getty Images

Facebook het na bewering die sukses van video’s wat op die platform geplaas is met tot 900% oordryf, het nuwe hofdokumente aan die lig gebring.

Die maatskappy word nou daarvan beskuldig dat hy adverteerders doelbewus om die bos gelei het deur voor te gee video’s het beter gevaar en is deur meer mense gekyk as wat werklik die geval is.

Facebook het aanvanklik in September 2016 erken dat hy die hoeveelheid kere wat video’s gekyk is, oordryf het.

Die aanvanklike maatstaf was om ’n video as “gekyk” te tel as ’n gebruiker meer as drie sekondes vertoef het, berig Fortune.

Luidens Facebook se eie interne ondersoek is die algemene tydperk wat mense na video’s gekyk het met 60% tot 80% opgeblaas.

Dié “fout” het gekom net soos die gewildheid van video’s op die platform begin posvat het.

Adverteerders het twee jaar gelede reeds beswaar aangeteken teen die praktyk om ’n video wat vir net drie sekondes gekyk is as “gekyk” te tel. Dit het die indruk geskep dat video’s beter vaar as wat dit werklik doen en daarom het maatskappye meer bestee aan video-advertensies.

Nou sleep ’n handvol van dié adverteerders Facebook hof toe weens onregverdige sakepraktyke en bedrog, berig die BBC.

Facebook se interne werking wys die maatskappy het nie omgegee of die syfers akkuraat is of nie.

Hoewel Facebook twee jaar gelede om verskoning gevra het, wys meer as 80 000 bladsye van interne dokumente, waartoe die eisers toegang verkry het, dat die maatskappy reeds in Januarie 2015 geweet het hy bereken die tyd wat video’s gekyk word verkeerd.

Die eisers beweer Facebook se programmeerders het vir meer as ’n jaar nie aandag aan die probleem gegee nie en dat die maatskappy doelbewus daaroor stilgebly het.

Luidens die eisers is die syfers ook met 150% tot 900% oordryf, nie 60% tot 80% soos Facebook aanvoer nie.

“Facebook se interne werking wys die maatskappy het nie omgegee of die syfers akkuraat is of nie,” word in die hofdokumente aangevoer.

Die maatskappy ontken dit. “Die hofsaak is ongegrond en ons het ’n aansoek gedoen om die aanklag van bedrog tersyde te stel,” sê ’n woordvoerder vir Facebook in ’n verklaring.

“Bewerings dat ons die probleem van ons vennote wou wegsteek, is vals.”

Ontleders, insluitende The Atlantic, wys daarop dat Facebook se oordrewe videosyfers nie net tot nadeel van adverteerders was nie, maar ook nuuskantore wêreldwyd.

Verskeie instansies, insluitende Mashable, FoxSports.com, MTV News, Vice, Mic.com en Vox, het tientalle joernaliste afgedank in ’n grootskaalse oorskakeling van tradisionele joernalistiek na video-inhoud.

Dit was alles in ’n poging om waarde te put uit “Facebook se algoritme” wat rondom 2016 getoon het dat dit al hoe meer voordelig is om video’s pleks van geskrewe inhoud te gebruik, berig The Atlantic.

Mashable het byvoorbeeld 30 joernaliste afgedank en Vice 60.

Dié stappe het egter grootliks misluk. Nadat FoxSports.com sy skrywers en redakteurs afgedank het, het sy gehoor binne drie maande met byna 90% gekrimp.

Kort voor lank het die swak vertoning van video’s op Facebook weer begin lei tot die afdanking van talle videograwe in nuuskantore oor die wêreld heen.

Volgens Amerikaanse arbeidstatistieke het koerante in die VSA sedert 2014 meer as 7 000 poste gesny, talle ’n regstreekse gevolg van druk om te voldoen aan wat Facebook skynbaar wil hê.

“Facebook het die reëls neergelê, het die speelveld besit en was die skeidsregter in ’n spel wat uitgewers hard probeer het om te wen,” skryf The Atlantic.

“Indien dit waar is wat nou in die hofstukke aangevoer word, beteken dit Facebook was boonop ook ’n oneerlike skeidsregter.”

Meer oor:  Facebook  |  Tegnologie  |  Hofgeding  |  Video  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.