Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook gee selfde ou verskoning – dis jóú skuld

Facebook sê dit is meer as 533 miljoen mense se eie skuld dat kuberkrakers hul telefoonnommers op die internet verkoop.

facebook
Facebook gee swak verskonings oor data-lekkasie. Foto: Unsplash

Volgens Vice News is ’n blog met die titel “Die feite oor nuusberigte en Facebook-data”, wat Dinsdagaand gepubliseer is, inderhaas geskryf deur Mike Clark, produkhoof van Facebook, om teen die toenemende kritiek op die maatskappy wal te gooi.

Baie mense meen Facebook doen nie genoeg om sy sowat 2,8 miljard gebruikers se telefoonnommers en persoonlike inligting te beskerm nie.

Nagenoeg ’n vyfde van die gebruikers – 533 miljoen in 106 lande – is blootgestel toe ’n databank met dié inligting die afgelope naweek vryelik op kuber-inbraakforums gedeel is, het Business Insider berig.

Nes die Cambridge Analytica-skandaal

Facebook is die afgelope jare van veelvuldige privaatheidskendings verdink. Pleks daarvan om hand in eie boesem te steek, maak hy weer die veiligheidsmislukking – soos destyds met die Cambridge Analytica-skandaal in 2018 – as ’n oortreding van sy diensvoorwaardes uit.

“Dit is belangrik om te verstaan dat kwaadwillige kuberkrakers nie die data bekom het deur by ons stelsels in te breek nie. Dit is voor September 2019 van ons platform geskraap,” skryf Clark.

Dit is die dieselfde verskoning wat in 2018 gegee is toe onthul is dat Facebook die inligting van 87 miljoen gebruikers sonder hul toestemming aan Cambridge Analytica gegee het vir gebruik in politieke advertensies.

Hoe is dit geskraap?

Die kontakinvoer-funksie het nuwe gebruikers toegelaat om hul kontaklyste op te laai en die nommers te laat pas by die nommers wat in mense se profiele gestoor is. Maar soos die meeste van die beste funksies van Facebook, het die maatskappy dit wyd oopgestel vir misbruik deur kuberkrakers.

“Dit kom daarop neer dat die aanvaller ’n adresboek met elke telefoonnommer op die planeet geskep en Facebook toe gevra het of die mense se ‘vriende’ op Facebook is,” het Mikko Hypponen, veiligheidskenner, in ’n twiet verduidelik.


Clark sê nie in sy blog wanneer die “skraap” gebeur het of hoeveel keer dié kwesbaarheid uitgebuit is nie, net dat Facebook die probleem in Augustus 2019 reggestel het.

Inti de Ceukelaire, ’n etiese kuberkraker van België, sê egter hy het Facebook al in 2017 van die probleem ingelig.

“Hoewel ons die kwessie wat in 2019 geïdentifiseer is, reggestel het, moet almal altyd seker maak dat hul stellings klop met wat hulle met die publiek wil deel,” skryf Clark.

“In dié geval kan beheer oor die stelling, ‘Hoe mense jou vind en kontak’, nuttig wees. Ons beveel ook aan dat mense gereeld privaatheidsondersoeke doen om seker te maak dat hul stellings toepaslik is, soos wie sekere inligting op hul profiele kan sien en ’n tweefaktor-verifikasie moontlik maak.”

Hoe kyk jy of jy deel is van Facebook en ander data-oortredings?

Die beste manier om te kyk of jy deel is van die data-lekkasie, is om die webwerf Have I been Pwned te gebruik.

Verskaf jou e-posadres of telefoonnommer. Jy sal nie net agterkom of jy deel was van die lekkasie nie, jy sal ook enige ander oortredings sien waarin jou data in gevaar gestel is.

Volg Zuckerberg?

Miskien moet almal wie se nommers in die uitgelekte data voorkom soos Mark Zuckerberg, stigter en uitvoerende hoof van Facebook, die app Signal, wat nie deur Facebook besit word nie, gebruik.


Meer oor:  Facebook  |  Signal  |  Mark Zuckerberg  |  Tegnologie  |  Kuberkrakers  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.