Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook kan stywe boete kry ná kuberaanval

Nadat Facebook Vrydag erken het dat kuberkrakers tot minstens 50 miljoen gebruikers se rekeninge toegang verkry het, is die vraag op almal se lippe: Wat gaan die nagevolge wees?

Mark Zuckerberg, die hoof van Facebook. Foto: Getty Images

Hoewel die sosiale netwerk se ondersoek na die voorval nog nie afgehandel is nie, is dataskending van dié aard in stryd met die privaatheidswette van verskeie lande en streke, waaronder die Europese Unie (EU) waar die nuwe algemene databeskermingsregulasie (GDPR) sedert Mei geld.

Ingevolge dié verreikende wetgewing kan enige maatskappy wat dit oortree boetes van tot 4% van sy wêreldwye jaarlikse inkomste of €20 miljoen (afhangende van watter bedrag die grootste is) opgelê word.

Lees ook: Facebook: Is ek gekraak? Wat moet ek weet?

Die GDPR geld enige maatskappy wat in of buite die EU gesetel is wat die persoonlike data van enige EU-inwoner verwerk.

Aangesien Facebook se internasionale kantoor in Ierland is, word dit deur die Ierse databeskermingsowerheid onderskryf.

Dié owerheid het Maandag getwiet minder as 5 miljoen Europeërs word regstreeks by die dataskending betrek, hoewel die finale syfers nog nie bekend is nie.

Die owerhede sal egter meer belang stel in wat skeefgeloop het en of Facebook meer kon gedoen het om die uitlek van persoonlike inligting te keer.

Facebook het Vrydag verduidelik dat kuberkrakers ’n swak plek in sy kode gebruik het om die “View As”-funksie te manipuleer en so toegang tot gebruikers se inligting te kry.

Die maatskappy het nog nie gesê of die kuberkrakers enigiemand se inligting misbruik het nie, net dat hy wel binnekort meer besonderhede van die aanval sal verskaf.

Die fout in die kode is ook intussen reggestel.

Kragtens die GDPR moet enige maatskappy wat ’n databreuk beleef, dit binne 72 uur bekend maak. Facebook se ingenieurs het dit verlede Dinsdag ontdek; owerhede is teen Donderdag daaroor ingelig en die maatskappy het dit Vrydag aan die wêreld verkondig.

Dié stappe is egter nie genoeg om hom van moontlike boetes te vrywaar nie.

Databeskermingsowerhede sal byvoorbeeld wil weet wat Facebook voor dié voorval gedoen het om gebruikers se inligting te beveilig.

Die maatskappy het reeds erken dat die fout in sy kode gebruikers se inligting langer as ’n jaar kwesbaar gelaat het. Die fout is glo in Julie 2017 begaan tydens die opgradering van ’n ander funksie wat met die oplaai van video’s verband hou.

Intussen word die maatskappy ook deur verskeie groepgedinge in die gesig gestaar.

Twee Amerikaners het reeds so ’n saak by ’n hof in Kalifornië ingedien namens “alle Amerikaners” wat by die skandaal betrek word.

Die eisers voer aan Facebook het nalatig opgetree en misken steeds sy gebruikers se reg op privaatheid.

Soortgelyke sake het vroeër vanjaar in die hof gaan draai nadat dit bekend geword het dat die omstrede konsultasiefirma Cambridge Analytica 87 miljoen mense se Facebook-inligting op ’n onvanpaste wyse bekom het.

Elizabeth Denham, die Britse kommissaris van inligting, het in Julie gesê Facebook kan moontlik die maksimum boete van £500 000 opgelê word weens dié oortreding van die land se privaatheidswette.

Meer oor:  Facebook  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Kuberaanval  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.