Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook kap Apple ook oor kommissie op apps

Facebook het nou ’n stuiwer in die armbeurs gegooi in die sage tussen Apple en Fortnite, die gewilde videospeletjie wat Apple Donderdag uit sy app-winkel geskop het omdat dié glo sy beleid rakende betalings binne apps probeer systap het.

Die sentrale twis handel oor Apple wat tot 30%-kommissie hef op alle transaksies wat in apps plaasvind wat hy in sy app-winkel beskikbaar het.

Volgens Facebook het Apple ook sy vroeëre versoek om weg te doen met dié kommissie, geweier.

Dié aankondiging is die jongste in ’n lang struweling tussen die tegnologiereuse wat reeds geruime tyd koppe stamp, onder meer oor hoe die kwessie van gebruikers se data benader moet word.

Volgens Facebook het hy Apple gevra om die kommissie wat hy vra, op te hef sodat hy meer kleinsakeondernemings kon lok na sy eie platform waarop hy wil begin om transaksies regstreeks te hanteer.

Volgens Apple se bepalings moet betalings binne apps egter deur sy eie stelsels gaan, vermoedelik sodat hy juis die kommissie daarop kan hef.

Apple het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

LEES OOK: Apple, Google skop Fortnite uit

Nes vele ander maatskappye is Facebook ook boos vir Apple oor die hoë kommissie wat hy vra vir aankope binne apps. Foto: Reuters

Epic Games, die skepper van Fortnite, het Apple, sowel as Google, intussen hof toe gesleep in die hoop om die beleid (dat betalings deur hul platforms moet geskied) ter syde te laat stel.

Google het ook Fortnite uit sy Play-winkel verwyder.

Apple vra tussen 15% en 30% per transaksie wat binne enige app plaasvind wat iOS-gebruikers van sy app-winkel aflaai.

Dié kommissies beteken jaarliks miljarde dollar vir Apple se geldkoffers.

Programmeerders is reeds jare lank krities jeens Apple hieroor, maar die maatskappy hou vol dis sy reg om dié kommissie te vra.

Facebook het reeds begin om die ondernemings wat beplan om op sy platform hul dienste te verkoop, in te lig dat Apple tot 30% van die verkoopprys vir homself gaan hou.

Google eis ’n soortgelyke persentasie in kommissie op aankope binne apps.

Afgesien van Epic Games het die musiekstromingsdiens Spotify ook begin baklei teen Apple se hoë tariewe en kommissies. Spotify het reeds ’n saak by die Europese handelshof ingedien wat Apple van onmededingende gedrag beskuldig.

Meer oor:  Google  |  Fortnite  |  Apple  |  Epic Games  |  Facebook  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.