Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook kry klets-app vir bloedjonges
Messenger Kids sal ‘n geslote omgewing wees vir kinders jonger as 13 jaar om met vriende en familielede te gesels. Foto: Facebook

Die sosialemedia-reus Facebook het pas aangekondig dit het ’n nuwe klets-app ontwikkel spesifiek vir jong kinders tussen 6 en 12 jaar oud.

In ’n blog-inskrywing Maandag skryf Facebook hulle het Messenger Kids geskep om vir kinders ’n platform te bied waarop hulle “veilig kan gesels met familie en vriende wanneer hulle nie self daar kan wees nie”.

Facebook en Facebook Messenger is eintlik net beskikbaar vir persone ouer as 13 jaar, maar dié reël word nie streng toegepas nie. Volgens die BBC is daar na beraming meer as 20 miljoen kinders jonger as 13 jaar wat Facebook gebruik.

Messenger Kids is ’n geslote omgewing waartoe kinders slegs toegang sal kry met hul ouers se toestemming. Die maatskappy het ook belowe hulle sal nie die kinders se gesprekke en foto’s gaan monitor om data te onttrek vir advertensiedoeleindes nie.

Ouers laat toenemend toe dat hul kinders hul tablette en slimfone gebruik, maar is dikwels bekommerd oor hoe hulle dit gebruik en watter apps toepaslik is
Loren Cheng

“Die app is gratis om af te laai en niks sal binne die app te koop wees nie,” belowe hulle.

Die nuwe app is pas in Amerika vir iOS-gebruikers bekend gestel en is nog nie elders of op Android-toestelle beskikbaar nie.

Messenger Kids is hoofsaaklik daarop gemik om ’n “veilige omgewing” te bied waarin jong kinders via teksboodskappe en video’s kan gesels. Prettige filters en maskers spesifiek vir die jongspan is ook ingesluit. Volgens die maatskappy is daar ook ’n biblioteek van “kindervriendelike GIF’s, rame, plakkers en tekenfunksies” ingesluit waarmee die kleinspan hulself kreatief kan uitdruk.

Intussen maak Facebook dit duidelik dat ouers volle beheer oor hul kinders se vriendelys sal behou. Die app word gekoppel aan die volwassene se bestaande Facebook-gebruikersnaam en -wagwoord. Ander volwassenes of kinders ouer as 13 met Facebook-rekeninge sal ook Messenger Kids-rekeninge kan skep om met kinders te gesels, byvoorbeeld oumas en oupas of ouers, broers en susters.

“Ouers laat toenemend toe dat hul kinders hul tablette en slimfone gebruik, maar is dikwels bekommerd oor hoe hulle dit gebruik en watter apps toepaslik is,” sê Loren Cheng, produkbestuurder van Messenger Kids. Sy verduidelik Facebook het toe direk met ouers gesels oor hul behoeftes sowel as met kenners van aanlyn veiligheid en kinderontwikkeling.

Hoewel die idee van ’n aanlyn omgewing waar kinders “veilig met hul vriende en familie kan gesels” prakties sin maak, laat dit talle wonder of jong kinders enigsins sosiale media moet gebruik. Daar is veral bekommernis oor die insluit van die “like”-knoppie in Messenger Kids wat onnodige druk op jong kinders kan plaas om aanvaarding van hul vriende na te jaag.

Common Sense Media, ’n Amerikaanse nieregeringsorganisasie wat daarop gemik is om die lewe van kinders en families te verbeter, skryf in ’n verklaring dat ’n klets-app vir kinders onder 13 jaar wat onder die beheer van hul ouers is, “’n goeie idee is, maar sonder ’n duidelike beleid oor dataversameling, wat met die inhoud gebeur wat die kinders deel en toekomstige projekte, is dit onmoontlik om die platform ten volle te vertrou.”

Daar is nog geen duidelikheid oor wanneer Messenger Kids in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie.

Meer oor:  Bbc  |  Sosiale Media  |  Sosiale Netwerke  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.