
Facebook besit WhatsApp en Messenger. Foto: Unsplash
Facebook het glo besluit om nie meer advertensies op prominente plekke in WhatsApp te plaas nie.
Volgens The Wall Street Journal het WhatsApp, wat deur Facebook besit word, reeds maande gelede die projekspan ontbind wat veronderstel was om die kode te ontwikkel wat advertensies oraloor die kletsdiens sou plaas.
Facebook het WhatsApp in 2014 vir die aardige bedrag van $22 miljard bekom en spook sedertdien om ’n haalbare manier te vind om geld uit die diens te maak.
Jan Koum en Brian Acton, medestigters van WhatsApp, het uit die maatskappy bedank omdat Facebook druk uitgeoefen het dat geteikende advertensies in gesprekke aangebring moes word.
Koum en Acton was heftig gekant daarteen dat Facebook toegang kry tot gebruikers se privaatgesprekke om so te bepaal watter advertensies om te vertoon.
Nietemin het Facebook in Mei 2019 aangekondig advertensies is gebruikers se voorland en dat hy beplan om dit deur die loop van 2020 in te stel.
Dis juis dié aankondiging wat Facebook nou volgens The Wall Street Journal stil-stil ongedaan gemaak het.
Die advertensies sou verskyn in WhatsApp se “stories”, waar jou kontakte kort video’s, foto’s en teks kan deel wat 24 uur lank onder hul naam sigbaar is.
Facebook het intussen begin om ’n spesiale weergawe van WhatsApp aan ondernemings te bied waarmee hulle deur middel van die kletsdiens met kliënte kan gesels.
Dit blyk ’n volhoubare inkomstestroom te skep wat die plasing van bykomende advertensies ongedaan maak.
Intussen beplan Facebook steeds om gesprekvoering op Messenger, WhatsApp en Instagram te integreer, wat sal beteken gebruikers sal boodskappe oor en weer tussen die platforms kan stuur.