Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook sal jou ophou dophou, maar...

Facebook-gebruikers sal voortaan kan sien watter apps en webwerwe monitor hul aanlyn bedrywighede en deel daardie inligting met Facebook sodat hulle met spesifieke advertensies geteiken word.

Hoewel gebruikers sal kan kies dat Facebook nie meer die inligting gebruik om advertensies te verpersoonlik nie, is daar geen opsie om te keer dat jou aanlyn bedrywighede enigsins gemonitor word nie.

Die sosialemediareus het dié nuus Dinsdag bekend gemaak as deel van sy volgehoue pogings om sy geskende reputasie te herstel ná afloop van ’n string skandale waartydens gebruikers se private inligting onwetend met derdepartye gedeel is.

Die nuwe funksie, bekend as “Off-Facebook Activity”, sal gaandeweg wêreldwyd beskikbaar wees nadat dit vir eers in onder meer Ierland, Suid-Korea en Spanje getoets word.

Watter inligting stuur webwerwe aan Facebook?

Al jou aanlyn aktiwiteite genereer data oor jou belangstellings in produkte, plekke en dienste.

As jy byvoorbeeld planne beraam vir ’n vakansie na Mauritius, sal jy waarskynlik in ’n stadium aanlyn na moontlike verblyf soek. Of jy sal in ’n aanlyn winkel rondblaai op soek na ’n nuwe reistas.

Hierdie webwerwe versamel jou unieke IP-adres sowel as die plekke of goedere waarvoor jy daarop gesoek het.

Hulle deel dan hierdie inligting met Facebook wat dit gebruik om spesifieke advertensies aan jou te wys wat aanklank vind by jou belangstellings.

Dit is hoekom jy skielik advertensies vir Mauritius oral op Facebook begin sien nadat jy op ’n ander webwerf vir inligting daaroor begin soek het.

Facebook maak sy geld deur ruimte op sy webwerf aan hierdie webwerwe te verkoop om hul advertensies te plaas.

Facebook het meer as 2 miljard maandelikse gebruikers. Foto: Unsplash

Kan ek nou keer dat hierdie inligting versamel word?

Nee. Webwerwe sal steeds hierdie inligting oor jou versamel en met Facebook deel, maar jy sal nou kan kies dat dit nie aan jou spesifieke IP-adres gekoppel word nie.

Dit beteken Facebook sal weet iemand het gesoek na ’n nuwe paar skoene op Superbalist, maar nie noodwendig dat dit jy was nie.

Sou jy kies om die Off-Facebook Activity-funksie af te skakel, sal jy lukrake advertensies op die platform begin sien in stede van advertensies vir produkte en dienste waarin jy in alle waarskynlikheid reeds belangstel.

Vanselfsprekend sal adverteerders bekommerd wees as baie Facebook-gebruikers kies om die funksie af te skakel, want dit sal beteken dat hul advertensies deur minder belangstellendes gesien gaan word. Derhalwe sal só stap ook uiteindelik Facebook se advertensie-inkomste ’n knou toedien.

Die maatskappy het wel onlangs bevestig hy gaan eersdaags ook begin om advertensies in sy gewilde kletsdiens WhatsApp te vertoon.

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Tegnologie  |  Google Chrome  |  Advertensies  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.