Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook se avatars: Vet pret of rede tot kommer?
Suid-Afrikaners kan sedert Dinsdag hul eie digitale weergawe op Facebook skep.

Dieselfde dag waarop Suid-Afrikaners weer (wettiglik) kon drink en rook, kon hulle ook hulself in digitale karakters op Facebook omskep.

Facebook se avatar-funksie het behoorlik sosiale media vandeesweek op horings geneem met derduisende digitale weergawes van gebruikers wat oraloor opgeduik het.

Die funksie, wat in Facebook se app ingebou is, laat gebruikers toe om ’n strokiesprentweergawe van hulself te skep.

Die funksie is betreklik uitgebreid en gebruikers kan verskeie “eienskappe” van hulself aanpas, soos hul velkleur, haarkleur, hoe die oë lyk en selfs hul liggaamsbou. Daar kan ook tussen uitrustings gekies word.

Maar is Facebook se avatars net ’n prettige tydverdryf, of is dit deel van ’n groter plan van Facebook om sy gebruikers al hoe meer tot die wêreld van virtuele realiteit te dryf?

En watter tipe inligting hoop Facebook om van sy gebruikers in te samel wat so graag ’n eie avatar skep?

Mark Zuckerberg, Facebook se hoof, het reeds in 2017 gesê die maatskappy hoop om eendag “meer as ’n miljard mense” te kry om van sy opsies vir virtuele realiteit (VR) gebruik te maak.

Facebook het reeds in 2014 Oculus VR, ’n maatskappy wat tegnologie vir virtuele realiteit (VR) skep, vir $2,3 miljard gekoop.

Oculus spesialiseer in die hardeware wat nodig is vir ’n VR-ervaring, insluitende die bril-kopstuk wat jy dra om in die VR-wêreld gedompel te word.

VR-toestelle is egter steeds betreklik duur met ’n klein segment van die mark vir videospeletjies wat daarvan gebruik maak.

In ieder geval het Facebook voortgegaan om sy eie digitale wêreld, Facebook Horizon, te skep.

Op sy webtuiste sê hy Horizon is ’n “VR-wêreld wat al hoe groter en groter word waar jy dinge kan ontdek, speel en skep op ongelooflike maniere”.

“By Horizon ontdek jy nie net die nuwe wêreld nie, jy is deel van dít wat dit goed maak.”

Dis juis hier waar die avatars wat Suid-Afrikaners so gretig skep, ter sprake kom.

Volgens Zuckerberg sal Facebook “alles in sy mag doen” om soveel gebruikers as wat hy kan op Horizon te kry.

En die skep van ’n eie avatar is die eerste stap hierna.

Horizon is ook geensins net ’n platform (of speelplek) waar digitale weergawes van mense mekaar ontmoet en geselsies aanknoop nie.

’n Groot dryfveer is e-handel. Die mikpunt is uiteindelik om digitale winkels en gebeure binne hierdie virtuele wêreld te skep.

Selfs opvoeding (e-leer) word as ’n opsie voorgehou in Facebook se nuwe digitale wêreld.

Virtuele wêrelde noodsaak dat die karakters wat dit vul verbind bly aan werklike mense sodat interaksies (en transaksies) meer werklik voel (of is).

As Facebook eers ’n avatar van jou het, kan dit jou maklik lok om deel te word van sy virtuele wêreld.

In die proses versamel die tegnologiereus natuurlik ook heelwat meer van sy gebruikers se persoonlike inligting.

Om ’n eie avatar te skep, deel jy onwetend inligting oor jouself sonder om dit te besef.

As daar aanvaar word jy probeer die avatar so naby aan jouself te laat lyk as moontlik, deel jy met Facebook presiese inligting oor jou voorkoms, velkleur, liggaamsbou, of jy ’n bril dra, jou voorkeure wat betref kleredrag en dies meer.

Dit is alles datapunte wat Facebook kan gebruik om jou met meer – en meer spesifieke – advertensies te teiken.

Meer oor:  Facebook  |  Tegnologie  |  Persoonlike Inligting  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.