Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook se groei taan, uitgawes hoop op

Facebook se resultate stel vir die tweede opeenvolgende kwartaal ontleders teleur.

Hoewel die wêreld se grootste sosiale netwerk se getal daaglikse gebruikers met 9% tot byna 1,5 miljard gestyg het, meen Wall Street die swakker as verwagte groei dui daarop dat die platform se groei stagneer. Dié groei is wel beter as die skamele 1,5%-groei in die vorige kwartaal.

Volgens sy syfers vir die derde kwartaal het Facebook nou gemiddeld 2,27 miljard maandelikse gebruikers. Dit is 10% meer as ’n jaar gelede.

Die maatskappy besit en bedryf ook WhatsApp, Messenger en Instagram. Volgens Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof, moet die aantal gebruikers op dié platforms dus bygereken word om ’n holistiese beeld te kry van hoeveel mense daagliks van Facebook se dienste gebruik maak.

“Ons glo dit is ’n beter manier om (die grootte van) ons gemeenskap te meet omdat so baie mense meer as een van ons apps gebruik,” sê Zuckerberg in ’n verklaring.

“Daar is nou meer as 2,6 miljard mense wat Facebook, WhatsApp, Instagram of Messenger elke maand gebruik. Dit is ’n styging van die 2,5 miljard verlede kwartaal.

“Meer as 2 miljard mense gebruik minstens een van ons apps elke dag.”

Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Facebook se groei was egter teleurstellend vir sowel beleggers as ontleders. Daarby het sy uitgawes in die afgelope drie maande met ’n massiewe 53% toegeneem op ’n jaargrondslag tot byna $8 miljard.

Dit is meer as die helfte van die maatskappy se inkomste vir die derde kwartaal, wat net meer as $13,7 miljard beloop.

Verreweg die meeste daarvan is van advertensies afkomstig waarvan Facebook se inkomste op ’n jaargrondslag met 33% toegeneem het.

Die gemiddelde inkomste per gebruiker in Amerika en Kanada, waar die grootste gros van Facebook-gebruikers woon, is maar 6,7% meer as verlede jaar.

In Asië het die inkomste per gebruiker met minder as 5% gestyg.

Zuckerberg waarsku Facebook se uitgawes gaan vir eers vinniger styg as sy inkomste terwyl die maatskappy in nuwe veiligheidsfunksies belê.

Die maatskappy gaan sedert die begin van die jaar gebuk onder die een skandaal ná die ander, waaronder ’n kuberaanval in laat September waartydens minstens 50 miljoen gebruikers se inligting blootgestel is.

Die maatskappy verwag sy inkomstegroei sal verlangsaam en dat koste met tot 50% kan styg in 2019.

Nóg ’n kwessie wat aandag moet kry, is dat gebruikers se gewoontes deurlopend verander, sê Zuckerberg.

Hy sinspeel daarop dat gebruikers deesdae al hoe meer boodskappe regstreeks aan mekaar stuur eerder as om dit op ’n openbare platform soos Facebook te deel.

Dié gewoonte neem vinniger toe as wat Facebook kans kry om maniere te vind om finansieel daaruit voordeel te trek.

Zuckerberg sê daar moet dringend ’n manier gevind word om advertensies in private gesprekke te plaas waarop gebruikers sal klik, maar wat hulle nie sal irriteer nie.

Dit sluit in op WhatsApp, ’n platform wat nog nie juis ’n groot inkomstestroom vir Facebook is nie, al word dit elke dag deur meer as 2 miljard mense gebruik.

Ten spyte van die swakker as verwagte syfers, het Facebook se aandeelprys Dinsdag in nauurse verhandeling met byna 3% tot $146,22 gestyg.

Meer oor:  Facebook  |  Mark Zuckerberg  |  Tegnologie  |  Groei  |  Resultate  |  Verdienste  |  Sosiale Media  |  Sosiale Netwerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.