Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook skop data-versamelaars uit
Facebook rol sy moue op en skop derdeparty-dataversamelaars uit sy advertensieprogram.Foto: Reuters

Terwyl Facebook se ellende voortduur in die nadraai van ’n privaatheidskandaal wat internasionaal opslae maak, het hy aangekondig hy gaan sy bande met data-agente en -makelaars opskort.

Facebook se advertensie-teikenprogram, Partner Categories, het prominente derdeparty-datamakelaars soos Experian en Acxiom toegelaat om data aan adverteerders deur te gee om gebruikers van die sosialemediaplatform met spesifieke advertensies te teiken.

Hoe werk teiken-advertensies?

In praktyk verwys dit na ’n advertensie van ’n nuwe voedselverwerker wat jy op Facebook sien kort nadat jy ’n ander kombuistoestel by ’n aanlyn winkel gekoop het.

Datamakelaars soos Experian versamel onder meer inligting oor jou aanlyn inkopies. As deel van die Partner Categories-program gebruik Facebook hierdie inligting om sy eie profiel van jou aan te vul. Facebook weet nou jy is ’n koper van kombuistoestelle.

Bemarkers wat op Facebook wil adverteer en spesifiek gebruikers op soek na kombuistoestelle wil teiken, sal hierdie inligting waardevol vind. Facebook deel dus ’n persentasie van sy inkomste uit die advertensie met Experian in ruil vir sy data.

In ’n kort verklaring op sy webtuiste beskryf Facebook die uitruil van data as “algemene praktyk”, maar voeg by dat hy dit oor die volgende paar maande gaan opskort in ’n poging om “mense se privaatheid op Facebook te verbeter”.

Die wêreld se grootste sosiale netwerk het ook Woensdag sy privaatheidsverstellings aangepas sodat gebruikers vinniger en met die eerste oogopslag kan sien watter inligting hulle vryelik op die platform deel, veral op die platform se mobiele apps.

Die maatskappy sê hy werk al geruime tyd aan dié bywerking van gebruikers se privaatheidsverstellings, maar dit is nou vroeër as beplan beskikbaar gestel in die nadraai van die Cambridge Analytica-skandaal.

Recode, ’n webtuiste vir nuus oor tegnologie, wys daarop dat Facebook se verhouding met datamakelaars soos Experian nie die rede is waarom die omstrede konsultasiefirma toegang tot 50 miljoen gebruikers se profiele kon kry nie.

Cambridge Analytica het dié data gekoop by die ontwikkelaar van ’n app genaamd “thisisyourdigitallife” wat dit vermoedelik namens hom versamel het.

Aandele in Acxiom het met sowat 10% gedaal ná Facebook se aankondiging dat hul paadjies gaan skei, berig Reuters.

Acxiom verwag ’n inkomste van tussen $910 miljoen en $915 miljoen in sy boekjaar tot einde Maart en sê Facebook se besluit sal nie sy wins in dié boekjaar raak nie.

Daarteenoor voorspel kenners dat sy inkomste in die 2019-boekjaar met tot $25 miljoen kan daal.

Facebook wou nie kommentaar lewer oor hoe die verandering aan die Partner Categories-program moontlik sy inkomste kan raak nie.

Adverteerders sal wel steeds die dienste van derde partye kan gebruik om te bepaal hoe goed hul advertensies op die platform gevaar het, bevestig Facebook.

Sy aandeelprys het Woensdag 0,5% hoër op $153,03 gesluit. Dis steeds 17% laer as op 15 Maart, die dag voor die bom oor Cambridge Analytica oor die maatskappy se kop gebars het.

Die datalek maak beleggers bekommerd dat groot tegnologiemaatskappye se versuim om gebruikers se data te beskerm, kan lei tot strenger regulering of dat adverteerders hulle onttrek.

Advertensies is verreweg die grootste inkomstestroom vir ’n maatskappy soos Facebook.

Bronne: The Verge, Recode, Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.