Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook werk weer, maar wat het fout gegaan?
Facebook se stelsels het Woensdag wêreldwyd gesukkel. Foto: Getty Images

Facebook se stelsels het Woensdagaand vir 16 lang uur probleme gegee wat gebruikers wêreldwyd in sak en as gelaat het.

Foto’s het oraloor verdwyn en op WhatsApp kon jy niks meer as teksboodskappe aan jou vriende stuur nie.

Enigiets meer as dit wou doodeenvoudig nie stuur nie.

Nuus dat Facebook, Instagram en WhatsApp probleme gee, het gou na ander sosiale netwerke oorgespoel. Kort voor lank het Facebook erken: Ja, daar is fout.

Terwyl sy tegnici deurnag gespook het om die probleem op te los, moes die meer as drie miljard gebruikers van sy platforms maar tevrede wees met die stuur van eenvoudige teksboodskappe in stede van enige foto’s of stemboodskappe.

Vroeg Donderdagoggend Suid-Afrikaanse tyd was die probleem skynbaar opgelos, maar wat het nou eintlik fout gegaan?

Foto’s ‘verdwyn’

Woensdagaand se probleme met Facebook was nie ’n volskaalse ineenstorting van sy stelsels nie; in stede was die probleem beperk tot die wys en stuur van groot lêers, insluitend video’s en foto’s.

Die sosialemediareus het verduidelik die probleem is tydens “roetine-instandhoudingswerk” veroorsaak, maar bygevoeg dat net “party gebruikers” daardeur geraak word.

Dit blyk egter Facebook het die erns van die situasie onderspeel. Dieselfde probleem met foto’s en video’s is tot aan die uithoeke van die aarde ervaar, wys DownDetector, ’n toonaangewende webwerf wat sulke probleme met gewilde webwerwe monitor.

Facebook verdien sy brood en botter uit die verkoop van advertensies. Vir 16 uur lank kon geen adverteerder se reklame sy teikengebruikers bereik nie. Die maatskappy wou egter by navraag nie aan Reuters bevestig of hy beplan om sy adverteerders vir die verlore tyd te vergoed nie.

Op sy afsonderlike webwerf vir programmeerders het Facebook die probleem met sy stelsels eers Woensdagaand om 19:00 erken; etlike ure nadat dit reeds begin het.

Die netwerk beskryf die gogga eenvoudig as ’n fout wat keer dat gebruikers se profielfoto’s reg vertoon. In der waarheid het dit probleme met die wys van alle foto’s en video’s veroorsaak.

Fout wys hoe Facebook jou foto’s identifiseer

Interessant genoeg het Woensdagaand se probleem ’n streng bewaarde geheim verklap van hoe Facebook gebruikers se foto’s identifiseer.

Terwyl gebruikers nie hul foto’s kon sien nie, is dit vervang met ’n klein blokkie teks. As jy dié teks van naderby sou aanskou, sou jy sien dit bevat die metadata wat Facebook oor die betrokke foto gestoor het.

Ingesluit hierby is besonderhede wat Facebook oor die foto geïdentifiseer het; inligting wat dit outomaties danksy kunsmatige intelligensie afgelei het.

So in stede van ’n kampfoto of ’n kiekie op die strand, sou daar staan “Image may contain: sky, clouds, beach, man, beard”.

Dit wys Facebook het die betrokke foto geïdentifiseer as een wat naby die see geneem is waarin ’n man met ’n baard verskyn.

Cloudflare dié keer onskuldig

Facebook se probleme was maar ’n paar uur nadat die internetdiensteverskaffer Cloudflare deur sy eie nagmerrie is.

Dinsdag het etlike duisende webwerwe wêreldwyd gevou nadat Cloudflare foutiewe programmatuur ontplooi het. Dit het veroorsaak dat webwerwe soos OKCupid, Discord, sowel as etlike Suid-Afrikaanse webwerwe soos Netwerk24, Maroela Media en News24, vir sowat 30 minute nie beskikbaar was nie.

Lees ook: Internet wankel weens 'foutiewe programmatuur'

Cloudflare se probleme het egter niks met dié van Facebook s’n te make nie.

Matthew Prince, die maatskappy se uitvoerende hoof, het op Twitter gesmeek dat gebruikers hulle eers vergewis van die feite alvorens die blaam vir ander webwerwe se foute voor Cloudflare se deur gelê word.

Facebook se stelsels was in Maart vanjaar ook vir etlike ure van lyn.

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Instagram  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.