Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook, WhatsApp en Instagram dalk geïntegreer
Facebook, wat ook WhatsApp en Instagram besit, beplan glo om hierdie drie platforms te integreer. Foto: Getty Images

Mark Zuckerberg, Facebook se uitvoerende hoof, beplan glo om aspekte van die maatskappy se drie boodskapdienste, WhatsApp, Instagram en Facebook Messenger, te integreer.

Luidens ’n berig in die New York Times gaan dié stap gebruikers toelaat om ’n boodskap op een diens na ’n gebruiker op enige van die ander dienste te stuur.

’n Gebruiker sal byvoorbeeld ’n WhatsApp-boodskap aan ’n vriend op Facebook Messenger kan stuur, of op ’n Instagram-boodskap via WhatsApp kan reageer.

Facebook besit al drie die kletsplatforms.

Volgens persone met kennis van die saak gaan die drie dienste as sulks wel nie saamsmelt nie, net geïntegreer word.

Zuckerberg het dit glo ook duidelik gestel dat gesprekke tussen die verskillende dienste steeds deur spesiale programmatuur beskerm gaan word wat sal keer dat derdepartye dit kan onderskep.

Net soos die geval tans op WhatsApp sal ’n boodskap tussen Facebook Messenger en Instagram gekodeer word sodat net die ontvanger se selfoon dit kan lees.

Dit beteken dat nie eens Facebook sal jou boodskappe kan lees nie.

In ’n verklaring sê Facebook hy doen die stap om “die beste ervaring” vir sy gebruikers te gee. “Ons wil hê dat die stuur van boodskappe vinnig, eenvoudig, betroubaar en privaat moet wees.”

Ons wil hê dat die stuur van boodskappe vinnig, eenvoudig, betroubaar en privaat moet wees.
Facebook

Die maatskappy het egter nog nie bevestig dat die integrasie van WhatsApp, Instagram en Facebook Messenger wel gaan plaasvind nie, net dat hy aan “maniere werk vir familie en vriende om makliker oor verskillende netwerke heen te kommunikeer”.

Danksy die kodering van boodskappe sal Facebook nie daarna kan loer om jou te bombardeer met persoonlike advertensies nie.

Tog het die nuus die wenkbroue van privaatheidskenners laat lig.

“Gegewe Facebook se onlangse geskiedenis en sy motief om geld te maak kan ek nie dink dat dié stap ’n goeie ding is nie,” het Matthew Green, ’n professor in kriptografie aan die Johns Hopkins-universiteit in Amerika, aan The Guardian gesê.

“Dit is nou ’n goeie tyd om belangrike gesprekke van hierdie dienste te verwyder.”

Die maatskappy word ook deur regulatoriese haakplekke gekniehalter.

Facebook word byvoorbeeld reeds in die Europese Unie verbied om gebruikers se WhatsApp-data na sy Facebook-diens oor te dra omdat dit databeskermingswetgewing oortree.

Daar word ook gevrees dat die integrasie sal neerkom op die skep van ’n monopolie en dat ’n mededingingstribunaal dit later sal dwing om dit ongedaan te maak.

Hoewel Facebook nie die inhoud van die boodskappe kan lees nie, sal dit weet van waar die boodskappe gestuur word en wie die sender en ontvanger(s) is.

Hierdie inligting kan wettig aan adverteerders gesmous word.

Uit al Facebook se kletsplatforms word net boodskappe op WhatsApp tans as ’n reël gekodeer.

Zuckerberg het in April verlede jaar erken die maatskappy skandeer elke liewe teksboodskap, video en skakel wat gebruikers met Messenger stuur om inhoud te keer wat sy bepalings en voorwaardes oortree.

Dieselfde geld Instagram.

Sou die drie platforms integreer, sal Facebook nie meer die inhoud van Messenger- en Instagram-boodskappe kan modereer nie.

Siende dat Messenger ook nie gekoppel is aan ’n selfoonnommer (soos WhatsApp) nie, laat dit kommer dat bekruipers dit kan gebruik om mense met ongevraagde boodskappe te peper.

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Instagram  |  Mark Zuckerberg  |  Tegnologie  |  Privaatheid  |  Sosiale Media  |  Sosiale Netwerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.