Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Facebook word een groot aanlyn winkel
Facebook gaan nou ondernemings toelaat om produkte regstreeks op die platform te verkoop.Foto: Unsplash

Facebook gaan al sy platforms in ’n virtuele winkel verander sodat ondernemings oor die wêreld heen hul produkte regstreeks daarop kan smous.

Die nuwe diens staan as Shops bekend, het die maatskappy Dinsdag aangekondig.

Dié stap volg op Facebook se aankondiging verlede jaar dat hy beperkte verkope van produkte regstreeks op Instagram en WhatsApp gaan begin.

Facebook reken hy kan staatmaak op nuwe inkomstestrome as hy sy platforms meer vriendelik maak vir ondernemings.

Facebook Shops sal ondernemings toelaat om ’n enkele aanlyn winkel te skep wat toeganklik sal wees vanaf Facebook self, sowel as Instagram.

Dit sal selfs moontlik wees vir kopers om binne die platform vir die goedere te betaal.

Ondernemings sal ook meer doeltreffend met kopers kan gesels binne Facebook se kletsdienste soos WhatsApp en regstreekse boodskappe op Messenger en Instagram.

Volgens Mark Zuckerberg, Facebook se hoof, gaan die maatskappy ook nou saamwerk met bestaande e-handelaars soos Amerika se Shopify om hul produkte op Facebook as te koop aan te bied.

Tobias Lütke, uitvoerende hoof van Shopify, het Dinsdag saam met Zuckerberg dié nuus aangekondig.

Shopify se aandeelprys het aanvanklik gedaal ná die aankondiging van Facebook Shops, maar het later weer herstel.

Sowel Shopify as Facebook se aandeelprys was laatmiddag 2% hoër.

Hoe werk Facebook Shops?

Ondernemings stel ’n lys van produkte beskikbaar op hul onderskeie Facebook-blaaie.

Facebook Shops sal op ’n onderneming se Facebook- of Instagram-blad gelys word.

Daarna kan die ondernemings die produkte regstreeks op Facebook en Instagram adverteer en so kopers na hul blad lok.

Kopers kan dan produkte regstreeks op Facebook koop, of herlei word na die onderneming se eie webtuiste.

Die ondernemings hanteer steeds self alle bestellings en aflewerings.

Kopers wat hulp benodig, sal ook regstreeks met die ondernemings kan gesels via Messenger, Instagram se boodskap-funksie of WhatsApp.

Net soos Facebook se ander funksies sal Shops gratis wees vir ondernemings. Facebook hoop om daardeur meer uit advertensies te verdien.

“Ons sakemodel hier is advertensies,” sê Zuckerberg. “In stede daarvan om ondernemings geld te vra om Shops te gebruik, weet ons dat Shops waardevol is vir ondernemings.”

Op dié manier gaan hulle al hoe meer uit advertensies verdien.

Facebook implementeer ook ’n nuwe funksie om lojaliteitsprogramme aan Shops te verbind en om ondernemings toe te laat om produkte onderaan regstreekse video’s op die platforms te verkoop.

Volgens Zuckerberg kyk meer as 800 miljoen mense daagliks na regstreekse video’s op Facebook en Instagram. – Reuters

Meer oor:  Facebook  |  Instagram  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.