Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Fitbit verklap verneuker se bedballet
’n Vrou van Amerika het ontdek haar maat verneuk haar nadat sy Fitbit haar van ’n vroeë oggend “oefensessie” laat weet het. Foto: Unsplash

’n Vrou van Amerika het ontdek dat haar kêrel haar verneuk toe sy een oggend baie vroeg ’n kennisgewing ontvang het dat sy hartklop skielik die hoogte in geskiet het.

En nee, hy was nie besig om te draf nie.

Jane Slater, ’n sportjoernalis van Dallas in die Amerikaanse deelstaat Texas, sê in ’n twiet haar kêrel het vir haar ’n Fitbit-fiksheidsbandjie vir Kersfees gegee.

Die paartjie het toe hul Fitbits so gestel dat die toestel ’n kennisgewing aan die ander persoon stuur as een oefen.

Slater sê hulle het dit gedoen om mekaar te motiveer om meer te oefen.

Maar toe haar kêrel se Fitbit skielik een oggend om 04:00 ’n kennisgewing stuur dat hy besig is om te “oefen”, het Slater onraad vermoed, veral omdat hy nie by haar was nie.

Die twee is na dese nie meer ’n paartjie nie.

Slater se verhaal op Twitter is intussen wyd gedeel. Ander gebruikers het ook erken dat hulle al danksy ’n fiksheidstoestel hul maat uitgevang het wat verkul.

Alex Koch, professor in sportwetenskap aan die Lenoir-Rhyne-Universiteit in Noord-Carolina, het aan Business Insider gesê seks kan inderdaad op een van dié toestelle as oefening registreer.

Fitbits en ander soortgelyke toestelle soos ’n Apple-horlosie het “baie akkurate” sensors wat die draer se hartklop monitor.

’n Seksuele aktiwiteit van ’n meer energieke aard sal vanselfsprekend tot ’n versnelde hartklop lei, sê Koch.

Hy sê sy eie Apple-horlosie het al ’n sessie met sy vrou as oefening geregistreer.

Volgens Koch het sy horlosie aangedui dat hy “verskeie stelle trappe” klim.

Seks verbrand enigiets van tussen vier tot sewe kalorieë per minuut, is in navorsing bevind.

Dit hang egter baie af van hoe rof die seks is, hoe oud die persone is en in watter posisie hulle is.

‘Nie almal is verneukers’

Koch benadruk egter enige aanduiding van fisieke aktiwiteite om 04:00 beteken nie noodwendig dat ’n persoon seksueel verkeer nie.

Daar kan ’n legio ander verduidelikings wees, sê hy, insluitend dat die draer dalk in sy of haar slaap loop, of dalk siek geword het.

Veral braking of ander maagprobleme kan ook tot ’n styging in hartklop lei.

Meer oor:  Fitbit  |  Oefening  |  Tegnologie  |  Fiksheidsbandjies  |  Seks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.