SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
FNB sluit Luno se rekening, sien kripto as ‘risiko’
Luno verhandel in digitale geldeenhede soos bitcoin en ethereum. Foto: Getty Images

FNB het besluit om nie meer sake met van Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatforms vir digitale geld te doen nie omdat hy dit as ’n risiko beskou.

Marius Reitz, hoof van Luno in Afrika, het Woensdag aan Netwerk24 bevestig die maatskappy het ’n kennisgewing van FNB ontvang wat lui die bank gaan sy rekening aan die einde van Maart 2020 sluit.

Ander verhandelingsplatforms soos ICE3X en VALR word ook geraak.

Luno gebruik ’n FNB-rekening as tussenganger vir gebruikers wat kriptogeld wil aanskaf.

Jy deponeer rande in die platform se FNB-rekening waarna jy dit na digitale geld, insluitend bitcoin, kan omskakel.

Dit is hierdie rekening wat FNB nou sluit.

Volgens Reitz hou die bank se besluit verband met regulatoriese onsekerheid oor digitale geld.

“Die rede wat FNB verskaf het, hou verband met die bank se aptyt vir risiko en die huidige gebrek aan regulasie in die bedryf,” sê Reitz.

Geen ander Suid-Afrikaanse bank het al soortgelyke stappe teen verhandelingsplatforms soos Luno gedoen nie, voeg hy by.

Die rede wat FNB verskaf het, hou verband met die bank se aptyt vir risiko en die huidige gebrek aan regulasie in die bedryf.
Marius Reitz

Afgesien van FNB het Luno ook ’n rekening by Standard Bank. Gebruikers van sy platform sal van April aanstaande jaar af op dieselfde wyse kriptogeld kan aanskaf deur net rande in sy rekening by Standard Bank te deponeer.

Luno sal ook regstreeks met sy gebruikers kommunikeer in hierdie verband, sê Reitz.

Betalings kan van enige bank af gedoen word en gebruikers hoef nie self ’n Standard Bank-rekening te hê nie.

Betalings van ’n Standard Bank-rekening na Luno se Standard Bank-rekening sal vanselfsprekend vinniger afgehandel wees as van ’n ander bankrekening, insluitend FNB.

“Gebruikers wat wil hê hul deposito’s moet dadelik aangedui word, het twee opsies,” sê Reitz.

Maak ’n rekening by Standard Bank oop; of aktiveer die opsie vir “instant payments” vanaf FNB of enige ander bank.

Persone wat voor April 2020 geld in Luno se FNB-rekening oorbetaal het, maar dit nog nie na bitcoin oorgeskakel of onttrek het nie, sê geld “is steeds veilig”, sê Reitz.

Hy spesifiseer nie of daardie geld na Luno se Standard Bank-rekening oorgedra gaan word nie.

Regulering van kriptogeld

Die Reserwebank het in Januarie vanjaar ’n konsepvoorstel uitgereik vir nuwe, strenger regulering van digitale geldeenhede soos bitcoin en ethereum.

Dit sluit in dat plaaslike verhandelingsplatforms waarop rande vir digitale geld verruil kan word by die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) moet registreer, en dat kopers van digitale geld se besonderhede bevestig moet word voordat hulle daarmee kan handel dryf.

“Verdagte” en “ongewone transaksies” van meer as R25 000 moet ook by die FIS aangemeld word.

Luno het in daardie stadium reeds aan al hierdie regulatoriese vereistes voldoen en selfs voldoen aan vereistes wat nog nie pertinent deur die Reserwebank ingestel is nie.

Reitz het al in Januarie gesê Luno verwelkom die beplande regulering van die bedryf.

Meer oor:  Fnb  |  Luno  |  Bitcoin  |  Tegnologie  |  Kriptogeld  |  Digitale Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.