
WhatsApp werk aan ’n funksionaliteit om gebruikers te help om van onnodige foto’s en video’s wat rondgestuur word, ontslae te raak. Foto: Getty Images
Die honderde foto’s van Fief en Wagter wat jou ma op die familie se WhatsApp-groep deel, is dalk oulik om na te kyk, maar dit neem baie van jou selfoon se bergplek in beslag.
Gelukkig is WhatsApp, wat deur Facebook besit word, besig om ’n funksie te ontwikkel wat gebruikers van sy kletsdiens sal help om die inhoud wat hulle ontvang, beter te bestuur.
Die nuwe “Storage Usage”-funksies sal enersyds ’n regstreekse aanduiding binne die app gee van hoeveel van jou toestel se bergplek word deur inhoud op WhatsApp (hetsy video’s, foto’s of stemboodskappe) in beslag geneem word.
Daar sal ook ’n afsonderlike afdeling wees waar gebruikers al die inhoud wat hulle reeds per WhatsApp ontvang het, sal kan hersien en uitwis soos nodig.
Lêers sal ook volgens grootte gesorteer kan word, wat beteken jy sal maklik groter video’s of PDF-lêers wat onnodig is eerste uitvee om bergplek te spaar.
Volgens WABetaInfo, ’n inligtingsblad wat nuwe WhatsApp-funksies bespreek, word die nuwe funksionaliteit getoets en is dit nog nie seker wanneer WhatsApp dit op sy app gaan insluit nie.
WhatsApp het wel reeds ’n handvol funksies waarvolgens jy kan sien hoeveel bergplek sekere gesprekke in beslag neem.
As jy onder Settings binne die app gaan na “Data and Storage Usage” kan jy onder “Storage Usage” sien watter gesprekke neem die meeste data in beslag.
Let wel al die media wat daar gelys word, is nie noodwendig op jou slimfoon se hardeskyf gestoor nie.
Van die inhoud rus net op WhatsApp se wolkbedieners en word herroep as jy dit aanvra (dus ’n boodskap of foto probeer oopmaak).
Jy kan dié funksionaliteit reeds gebruik om hele gesprekke met kontakte uit te wis.
Dit sal die inhoud van die gesprek sowel op jou toestel as WhatsApp se wolkbedieners uitvee.
Jy kan ook die nodige verstellings maak sodat foto’s en video’s wat jy ontvang nie outomaties op jou foon se hardeskyf gestoor word nie.
Op ’n Android-foon klik op “Settings”, dan op “Chats” en maak seker Media Visibility is afgeskakel.
En vir Apple-fone, gaan na “Settings”, dan na “Chats” en maak seker “Save to Camera Roll” is afgeskakel.
Hoeveel boodskappe het jy al gestuur?
WhatsApp hou telling van hoeveel boodskappe – hetsy teks, video’s, foto’s of lêers – jy en al jou kontakte al aan mekaar gestuur het.
Om te sien hoeveel keer jy en ’n sekere vriend al gesels het, gaan na “Settings” en dan na “Data and Storage Usage”. Onder “Storage Usage” soek vir die betrokke vriend of kontak se naam.
WhatsApp sal dan lys hoeveel keer julle al foto’s, GIF’s, video’s, stemboodskappe en dies meer aan mekaar gestuur het. En ook hoeveel stoorplek hierdie gesprekke in beslag neem op sy bedieners.