As jy al ooit ’n Ford op krediet gekoop het, kan jy dalk ’n paar ekstra foonoproepe van telebemarkers verwag.

Ford en Absa het deurgeloop toe ’n Absa-werknemers oënskynlik mense se foonnommers en ander persoonlike inligting verkoop het.
Ford Credit het ’n aantal bestaande en voormalige kliënte Dinsdag ingelig dat hul persoonlike inligting uitgelek het. Dit sluit in identiteitsnommers, voertuigbesonderhede, adresse en foonnommers.
Ford Credit het Netwerk24 se navraag na Absa verwys. Dit blyk die datalekkasie wat Absa vroegoggend aangekondig het, is een en dieselfde as die een waarin Ford-kliënte se inligting uitgelek is.
’n Woordvoerder van Absa het dit ook per e-pos bevestig.
Die e-pos aan Ford-kliënte dui nie aan of enige finansiële inligting uitgelek het nie en ook nie hoeveel mense geraak word nie.
Absa het vroegoggend aangekondig hy het strafregtelike klagte ingedien teen ’n werknemer wat na bewering van sy kliënte se data uitgelek het. Net ’n “klein deel van Absa Suid-Afrika se kliëntebasis” is geraak.
Die datalekkasie was nie ’n geval van kuberkrakers was wat by die maatskappy se stelsels ingebreek het nie.
LEES OOK: Absa vat werker vas wat data laat uitlek
Kerry Henderson, besturende direkteur van Ford Credit, beskryf dit as ’n “geïsoleerde interne datalekkasie”.
Almal wie se data uitgelek is, word persoonlik gekontak.
Beslag is gelê op alle toestelle waarop die data geberg is en die data is vernietig – byna die identiese woorde wat Absa die oggend gebruik het.
“Gegrond op ons ondersoek het ons rede om te glo dat die data vir telebemarkingsmaatskappye bedoel was. Wees dus asseblief baie waaksaam indien enige eksterne partye met jou in verbinding tree,” luidens Henderson se e-pos aan kliënte.
Ford gee die versekering hy het ’n “omvattende stel beheermaatreëls en prosesse om jou data te beskerm, en verbeter hulle heeltyd om te verseker dat ons aanpas by die ontwikkelende tegnieke wat misdadigers inspan om hulle te omseil.”
Mense met navrae word gevra om 0860 667 667 te skakel.
Bidvest Bank het op 6 November ’n dataskending bekend gemaak waarin die “demografiese besonderhede” van kliënte uitgelek is.
Die ergste geval was egter toe sowat 25 miljoen verbruikers en 800 000 ondernemings se inligting by die kredietburo Experian uitgelek het. Dis verskaf aan iemand wat hom as ’n kliënt voorgedoen het.