Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
KYK: Galaxy Note 9 doodskoot vir slegte selfies

Het jy al ooit ’n foto van ’n groep mense geneem en telkens is een se oë toe? Of die foto is heeltemal uit fokus?

Almal sukkel daarmee en toe besluit Samsung dis tyd om iets daaraan te doen.

Dié Suid-Koreaanse tegnologievervaardiger se jongste vlagskipfoon is Donderdag op ’n spoggerige geleentheid in New York bekend gestel wat gelyktydig wêreldwyd gebeeldsend is.

Die Galaxy Note 9, Samsung se jongste sogenaamde “fablet” – ’n tussenganger tussen ’n selfoon en ’n tablet –kreun behoorlik onder al die nuwe funksies. Verskeie funksies is vooraf deur joernaliste en Samsung-personeel gelek, maar daar was steeds ’n paar verrassings.

Kranige fotograwe sal opgewonde wees oor veral een funksie. Die Note 9 se kamera gebruik sagteware om te “sien” of iemand in die foto se oë toe is of dat die foto uit fokus is. Dit sal die gebruiker waarsku wanneer hy of sy die sluiter-knoppie druk, wat sal help om teleurstellende foto’s te vermy.

Kunsmatige intelligensie aan die stuur

Dit is maar net een van vele intelligente funksies wat Samsung nou by sy toestelle insluit. Die maatskappy begin nou nes sy grootste mededinger, Huawei, meeding op die gebied van kunsmatige intelligensie – dat jou foon jou gewoontes aanleer en daarby aanpas.

Die intelligente kamera pas ook outomaties aan in swak lig, en wéét boonop ook wat jy probeer afneem, of dit nou ’n nabyskoot van ’n blommetjie of ’n landskaptoneel in die Drakensberge is. Die kamera sal aanpas om te verseker dat jy die beste foto in elke situasie neem.

Skryf dit neer

Ingesluit by die Note 9 is ’n splinternuwe S Pen, ’n elektroniese pen wat met Bluetooth aan jou foon verbind.

Daarmee kan jy op jou foon se skerm skryf, teken, of selfs die pen as ’n afstandbeheer gebruik. Jy kan ’n video onderbreek, of deur ’n PowerPoint-voorlegging blaai.

Jy kan ook die knoppie op die S Pen gebruik om ’n foto te neem. Dit beteken jy sal nie meer hoef te soek vir mense met lang arms om mooi selfies te neem nie.

Enige nota wat jy op jou foon se skerm neerskryf, selfs al is dit gesluit, word outomaties gestoor.

So baie spasie

Tydens die bekendstelling van die Note 9 kon Samsung ook nie uitgepraat raak oor die massiewe hoeveelheid stoorspasie wat ingesluit word nie.

Die minimum grootte van die Note 9 is 128 gigagrepe met die opsie om tot ’n maksimum van 512 gigagrepe te gaan. Die goeie nuus is dat jy ook ’n geheuekaart van nóg 512 gigagrepe kan byvoeg, wat in effek beteken die Note 9 is die eerste 1 teragreep-slimfoon.

Die Note 9, met Android 8.1, bevat ook verskeie sekuriteitsfunksies soos Samsung Knox en Samsung Pay om gebruikers se inligting te beskerm.

Samsung Pay is onlangs in Suid-Afrika bekend gestel en dié betaalmetode word eksklusief aan Absa- en binnekort ook Standard Bank-kliënte gebied.

Teenvoeter vir teleurstellende S9

Die bekendstelling van die Note 9 volg net meer as ’n week nadat Samsung sy teleurstellende kwartaalsyfers bekend gemaak het. Daarvolgens het die bedryfswins van sy mobiele eenheid met 34% gedaal vergelyke met ’n jaar gelede.

Die verkope van die Galaxy S9, wat in Februarie bekend gestel is, was uiters teleurstellend.

Dié foon is wyd gekritiseer dat dit “niks nuut” gelewer het vergelyke met sy voorganger, die S8, nie.

Ontleders meen Samsung was duidelik hiervan bewus in sy bekendstelling van die Note 9, met heelwat tyd wat bestee is om mense bewus te maak van wat die Note 9 anders maak.

Die maatskappy het ook verklap dat hy ’n ooreenkoms met Epic Games, die skeppers van die uiters gewilde speletjie Fortnite, aangegaan het om dit eerste na Galaxy-fone vir Android-gebruikers te bring. Die speletjie is van Donderdag af beskikbaar vir Galaxy-fone in die Google Play-winkel en reeds ’n geruime tyd beskikbaar op iOS.

Die nuwe Samsung Galaxy Note 9. Foto: Reuters

Samsung het ook ’n vennootskap met die musiekstromingsdiens Spotify aangegaan en gaan voortaan die app daarvoor by al sy slimfone insluit.

Volgens die marknavorser IDC het Samsung reeds 143 miljoen Galaxy Note-fone sedert 2011 verkoop. Volgens die BBC beloop dit sowat 7% van sy totale verkope in dié tydperk, maar vanweë die fone se stewige prys is dit gelykstaande aan 10% van Samsung se inkomste.

Wanneer is dit in SA beskikbaar?

’n Plaaslike verteenwoordiger van Samsung het bevestig die Note 9 is van 24 Augustus beskikbaar in drie kleure – swart, koper en blou.

Die voorgestelde prys is R18 999 (vir 128 gigagrepe) of sowat R799 per maand by meeste diensverskaffers.

Die Note 9 met 512 gigagrepe sal R23 999 kos, soortgelyk aan die iPhone X.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Galaxy Note 9
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.