Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Geen eFiling op dié 4 dae nie, waarsku Jan Taks

Ses maande nadat ’n bom om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se IT-afdeling se kop gebars het, gaan die belastinggaarder sy elektroniese dienste na ’n nuwe bediener skuif.

Die inkomstediens gradeer sy elektroniese dienste op.Foto:

Die SAID het in Oktober onder skoot gekom nadat bewerings voor die Nugent-kommissie van ondersoek gemaak is dat sy eFiling-stelsel op die rand van ineenstorting is.

Die belastinggaarder het dit ten sterkste ontken, maar Maandag wel aangekondig hy gaan vandeesmaand nog sy stelsels “opknap”.

Verskeie van die SAID se elektroniese dienste gaan van Vrydagmiddag (12 April) tot Dinsdagoggend (16 April) vanlyn wees terwyl dit na ’n nuwe platform geskuif word.

Dit sluit in die SAID se eFiling-diens, sowel as die eFiling-app en e@syFile Employer.

Die SAID se webwerf gaan ook in dié tyd nie werk nie.

Luidens ’n verklaring is die skuif deel van die SAID se “reis na digitale transformasie” wat na verwagting ’n “verskeidenheid innoverende oplossings” gaan bied sodat die SAID makliker aan sy mandaat kan voldoen.

Die belastinggaarder het nie meer besonderhede verskaf oor wat die skuif na die nuwe platform behels nie, en of dit beteken sy elektroniese dienste gaan vanaf 16 April totaal anders lyk en funksioneer nie.

Hoewel die SAID destyds ontken het sy stelsels gaan “oornag in duie stort”, het hy toegegee dit sal opgegradeer moet word ten einde op moderne webblaaiers te werk.

Mark Kingon, toe die waarnemende kommissaris van die inkomstediens, het voor die Nugent-kommissie getuig die stand van digitale inligting en tegnologie by die belastinggaarder het skade gely sedert Tom Moyane, geskorste kommissaris, alle modernisering en ontwikkeling daarvan in 2014 skielik gestaak het.

Dinge is ook nie aangehelp deur ’n omstrede televisieonderhoud in Oktober verlede jaar waarin Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, die SAID se IT-hoof, skynbaar geen vrae oor die belastinggaarder se IT- en eFiling-infrastruktuur kon beantwoord nie.

Makhekhe-Mokhuane is intussen op “diskresionêre verlof” by die huis.

Sy word steeds haar volle salaris van ongeveer R278 000 per maand betaal.

Tau Mashigo is reeds verlede jaar as waarnemende IT-hoof in haar plek aangestel. Volgens Makhekhe-Mokhuane se prokureurs weet sy nie waarom sy steeds “met verlof” is of waarom ’n ander persoon in haar plek aangestel is nie.

“Sy is nooit daaroor ingelig of oor waarom haar dienste opgeskort is nie.”

Hoewel die SAID se elektroniese stelsel ’n paar dae vanlyn gaan wees, sal belastingbetalers steeds in persoon opgawes kan indien of ander dringende sake in kantoorure by enige van die belastinggaarder se kantore kan uitvoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.