Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Géén YouTube, Maps op Huawei se nuwe foon

Waar sy vorige slimfone met ’n groot kabaal van ligte, musiek en dansers voor ’n massiewe gehoor van joernaliste en bekendes bekend gestel is, het Huawei sonder enige fanfare Donderdag sy jongste vlagskipfoon aangekondig.

Huawei het sy jongste slimfoon sonder veel fanfare bekendgestel. Foto: Getty Images

’n Klein groepie joernaliste het by die Chinese tegnologievervaardiger se Suid-Afrikaanse hoofkantoor in Johannesburg vergader om ’n regstreekse uitsending te kyk van die Huawei Mate 30 en Mate 30 Pro se bekendstelling in München, Duitsland.

Dit was ’n gedempte affêre en niemand is toegelaat om enigsins die nuwe toestelle te hanteer, of om vrae daaroor te vra nie.

En natuurlik is daar vrae.

Die Mate 30 is die eerste nuwe slimfoon uit die Huawei-stal vandat Amerika ’n verbod op die maatskappy geplaas het. As gevolg daarvan mag geen Amerikaanse maatskappy meer tegnologie aan Huawei verskaf nie.

Al die Mate 30 se fantastiese funksies – insluitende ’n uiters innoverende kamerastelsel en ongelooflike lang batterylewe – is oorskadu deur een vraag: Het dit Android?

Die goeie nuus is ja, dit het.

Die Mate 30 en Mate 30 Pro is albei toegerus met die jongste weergawe van Android 10, maar ongelukkig is dit waar die goeie nuus eindig.

Die foon het nie toegang tot die Google Play-winkel nie. In plaas daarvan moet apps uit Huawei se eie winkel afgelaai word.

Huawei kon daarin slaag om die Android-bedryfstel, wat deur Amerika se Google vervaardig word, in te sluit omdat daar ’n gratis weergawe daarvan bestaan.

Dit is dié weergawe wat op die Mate 30 geïnstalleer is.

Huawei bou reeds ’n geruime tyd sy eie bedryfstelsel bo-op Android s’n. Dit staan as EMUI bekend. Die Mate 30 is toegerus met EMUI 10, wat beteken dit werk en lyk soortgelyk aan Android 10 met enkele verskille.

Die nuwe Huawei se kamera is baie goed. Foto: Getty Images

Geen toegang tot Google Play

En die grootste verskil mag dalk net Huawei se nuwe spoggerige foon laat sink.

Die Mate 30 bevat geen van Google se apps nie – en dit kan ook nie.

Die weergawe van Android wat dit gebruik, bevat nie Google se Mobile Services”-diens nie. Dit beteken géén Google-app of -diens kan daarop geïnstalleer word nie.

Die foon het ook nie toegang tot die Google Play-winkel nie. In plaas daarvan moet apps uit Huawei se eie winkel afgelaai word. Dié winkel bevat nie naastenby soveel apps soos Google se weergawe nie.  Dit bevat wel gewilde apps soos Facebook, WhatsApp en Instagram, maar geen apps van Google soos YouTube, Maps of Gmail nie.

Om Google Mobile Services in te sluit, benodig jy ’n lisensie wat Huawei weens die verbod nie mag bekom nie.

Die Mate 30 gebruik Huawei Mobile Services.

Tydens die bekendstelling van die foon het Richard Yu, Huawei se verbruikershoof, by programmeerders gepleit om meer apps vir Huawei se app-winkel te skryf.

Die maatskappy het $1 miljard hiervoor begroot.

Die Mate 30 en Mate 30 Pro het wel Android, maar kan geen van Google se apps ondersteun nie. Foto: Getty Images

Geen onderhoude, foto’s toegelaat

Huawei in Suid-Afrika het nie tydens die bekendstelling in Johannesburg toegelaat dat joernaliste die nuwe Mate 30 op die proef stel nie.

Trouens, geen onderhoude oor of foto’s van die fone is toegelaat nie.

Plaaslike verteenwoordigers weet ook nie wanneer die Mate 30 in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees of wat dit gaan kos nie.

In Europa beloop die prys €1 099 (sowat R17 800 voor invoerbelasting) vir die Mate 30 Pro en €799 (sowat R13 000 voor invoerbelasting) vir die Mate 30.

Dit maak die Mate 30 Pro – met géén toegang tot enige van Google se apps – duurder as die nuwe iPhone 11, iPhone 11 Pro en Pro Max.

Is die Mate 30 darem goed?

Volgens wat Yu tydens sy bekendstelling verklap het, lyk dit beslis so.

  • Die Mate 30 en Mate 30 Pro het albei verskeie kameralense, insluitende ’n hooflens van 40 MP.
  • Dit bevat ook ’n wyehoeklens van 16 MP en in die geval van die Pro ’n sensor wat diepte kan skat.
  • Albei toestelle bevat ook ’n massiewe battery (onderskeidelik 4 200 mAh en 4 500 mAh) wat supervinnig kan herlaai. Boonop koordloos ook – nés Huawei se P30 en P30 Pro.
  • Huawei het wel ’n kragtige nuwe skyfie vir die Mate 30 ontwikkel. Die maatskappy het sy Kirin 990-skyfie tydens die onlangse IFA-tegnologieskou bekend gestel.

Maar met die onsekerheid oor die Amerikaanse verbod, die gebrek aan Google se apps en geen aanduiding van wanneer dit beskikbaar gaan wees nie, is daar nog min om oor opgewonde te raak oor die Mate 30.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfone  |  Mate 30 Pro  |  Tegnologie  |  Huawei Mate  |  Mate 30
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.