Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Gesoek: Nuuskanaal om ANN7 te vervang
Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers, en Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, op 'n onlangse mediakonferensie waar MultiChoice se verhouding met ANN7 bespreek is. Foto: Felix Dlangamandla

MultiChoice, wat deurgeloop het onder kritiek omdat hy die Gupta-beheerde nuuskanaal ANN7 op sy platform dra, is op soek na vervaardigers vir ’n nuwe nuuskanaal.

Die maatskappy nooi maatskappye wat belang stel om vir ’n nuwe swartbeheerde 24 uur-nuuskanaal te tender, om hul voorneme te registreer.

Dit kan op MultiChoice se webtuiste gedoen word.

Die nuuskanaal moet ’n Suid-Afrikaanse, oorheersend Engelse nuuskanaal wees “wat die geskiedenis, diversiteit van kultuuragtergrond, taal en maatskaplik-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika in ag neem”.

Dit moet regstreekse uitsendings met nuusaanbieders “in die styl van Al Jazeera, CNN, SkyNews, eNCA, SABC News en ander wees.

Die fokus sal spesifiek wees op “nasionale-, streek-, plaaslike en Afrika-nuus, aktualiteit, sake van die dag en sport, met ’n matige fokus op internasionale sake”.

Dit moet besit, bedryf en bestuur word deur ’n onafhanklike swartbeheerde Suid-Afrikaanse maatskappy.

MultiChoice sal geen redaksionele beheer of eienaarskap hê nie.

Die nuuskanaal sal “wyd versprei word op DStv-pakkette”.

Die kanaal sal deur MultiChoice “en ander bronne” gefinansier word.

“Die uitnodiging is net om te registreer met die doelwit om te tender sodat MultiChoice die vlak van belangstelling kan peil. ’n Verdere, formele uitnodiging om tenders in te dien, met besonderhede van die proses en verdere riglyne, sal middel Februarie gedeel word.”

MultiChoice was in die spervuur omdat ANN7, wat tot onlangs aan die Guptas behoort het, R141 miljoen per jaar ontvang het en daar ook vrae was oor ’n voorafbetaling van R25 miljoen.

MultiChoice het onlangs in ’n interne ondersoek bevind daar was geen korrupsie nie, maar dat hy nie ’n behoorlike tenderproses met die ANN7-kanaal gevolg het nie.

MultiChoice ontken ook enige betrokkenheid by staatskaping.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, het verlede week op ’n mediakonferensie by sy hoofkantoor in Randburg, Johannesburg, gesê hy gaan nie ANN7 se kontrak met sy nuwe eienaar hernu nie. Die kontrak kom op 20 Augustus vanjaar tot ’n einde.

Mawela sê MultiChoice haal ANN7 nie dadelik van die lug af nie, want hy wil aan die kanaal en sy werknemers genoeg tyd gee om planne vir die toekoms te maak.

Mawela sê die foute wat MultiChoice gemaak het, sluit in:

Hy het nie ’n behoorlike omsigtigheidstudie gedoen voordat hy ’n kontrak met ANN7 gesluit het nie.

Hy het nie vinnig genoeg gereageer en die direksie in kennis gestel van kwessies toe vrae oor ANN7 begin vra is nie.

Hy het nie behoorlik met alle belanghebbendes, waaronder die publiek, gekommunikeer oor die aangeleentheid nie.

MultiChoice, en sy moedermaatskappy, Naspers, word daarvan beskuldig dat hulle kommersiële ooreenkomste met ANN7 en die SAUK aangegaan het om die regering se beleid oor digitale migrasie te beïnvloed.

Mawela sê dit is aanvaarde gebruik om vir inhoud te betaal soos MultiChoice vir ANN7 gedoen het.

Mawela het toe gesê ANN7 sal deur ’n nuwe nuuskanaal wat Suid-Afrikaans en in swart besit is, vervang word. Mawela sê daar is genoeg ruimte in die Suid-Afrikaanse mark vir ’n derde onafhanklike nuusdiens.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) ondersoek ook die ANN7-kontrak.

  • MultiChoice is soos Media24 ’n filiaal van Naspers. Netwerk24 is ’n publikasie van Media24. 
Meer oor:  Naspers  |  Multichoice  |  Ann7  |  Calvo Mawela  |  Koos Bekker  |  Guptas  |  Bob Van Dijk  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.