Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Gesoute Vodacom-man bedank skielik
Andries Delport, wat van Vodacom na Vumatel skuif.

Andries Delport, Vodacom se jare lange tegnologiehoof, het bedank.

Hy verlaat die maatskappy einde Mei aanstaande jaar ná 23 jaar ononderbroke diens, het die maatskappy bevestig.

Delport is opgeraap deur Community Investment Ventures Holdings (CIVH), waarin Remgro die meerderheidsbelang besit. CIVH besit onder meer Dark Fibre Africa (DFA) en Vumatel, albei verskaffers van internetveseldienste.

In ’n verklaring Dinsdag sê Vodacom Delport het bedank om “eksterne belangstellings” na te jaag.

Vanweë die senior aard van sy pos moet hy ses maande kennis gee. Daarom sluit hy eers volgende jaar Junie by CIVH aan, ook as tegnologiehoof.

DFA besit veselnetwerke in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Midrand, Centurion en Pretoria sowel as kleiner dorpe en stede soos Oos-Londen en Polokwane. Die firma installeer ook vesel na huishoudings en ondernemings.

CIVH het in Mei sy belang in Vumatel tot 100% uitgebrei nadat hy aanvanklik 34,9% daarvan in Junie 2018 bekom het. Vumatel installeer ook veselinternet na ondernemings en huishoudings.

Delport gaan dié bedrywighede bestuur.

Hy het in Junie 1996 by Vodacom aangesluit en is in November 2010 tot tegnologiehoof bevorder.

Onder sy leiding het Vodacom sy netwerkinfrastruktuur aansienlik uitgebrei in onder meer Lesotho, Mosambiek, Suid-Afrika en Tanzanië.

Die maatskappy het nog nie aangekondig wie Delport gaan opvolg nie.

Verkoop van belange

Intussen berig Bloomberg dat Remgro oorweeg om van sy belang in DFA en Vumatel ontslae te raak.

Johann Rupert, voorsitter en meerderheidsaandeelhouer van Remgro, het glo na adviseurs uitgereik om te bepaal of daar belangstelling van ander beleggers is om die maatskappy se belang in die twee veselverskaffers oor te koop.

Bloomberg haal naamlose bronne “met kennis van die saak” aan.

Remgro se belang in DFA en Vumatel word op sowat R22 miljard gereken.

Remgro besit ’n belang van 54,4% in CIVH.

CIVH is egter ’n finansiële las vir Remgro en het volgens die maatskappy se jongste resultate vir die jaar tot einde Maart 2019 ’n verlies van R204 miljoen gely.

Dis hoofsaaklik omdat DFA se voorbelaste inkomste met ’n stewige 54,6% tot R276 miljoen gedaal het.

CIVH het ook R98 miljoen ingevolge sy belegging in Vumatel in die boekjaar verloor.

Pieter Uys, voorsitter van CIVH, het egter kort nadat die artikel op Bloomberg verskyn het aan My Broadband ontken dat Remgro beplan om van sy belange in DFA en Vumatel ontslae te raak.

Volgens Uys bly CIVH een van Remgro se “strategiese beleggings”.

Shameel Joosub, Vodacom se uitvoerende hoof, het Delport in ’n verklaring vir sy jare lange diens bedank en hom sterkte toegewens.

Meer oor:  Vodacom  |  Civh  |  Vumatel  |  Remgro  |  Andries Delport  |  Johann Rupert  |  Shameel Joosub  |  Tegnologie  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.