Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Gesprekke oor ‘TV-lisensies vir Netflix’ gaan voort

Die kwessie oor lisensiegeld vir inhoud wat net op skootrekenaars, tablette of slimfone gekyk word, is Woensdag weer in die parlement geopper.

Die staat oorweeg dit steeds om lisensiegelde te verhaal al kyk jy net inhoud op ’n selfoon of skootrekenaar. Foto: Getty Images

As die departement van kommunikasie en digitale tegnologie sy sin kry, sal die staat sy definisie van ’n uitsaaidiens aanpas om inhoud in te sluit wat op enige toestel – en nie net ’n televisie nie – gekyk word.

Die definisie van “uitsaaidienste” is laas in 2005 gewysig en bring nie die verandering in tegnologie in berekening nie, het Collin Mashile, hoof van uitsaaibeleid van die departement, Woensdag aan die parlement se staande komitee vir kommunikasie gesê.

Die beoogde wysigings is alles deel van ’n konsepdokument wat die departement meer as ’n maand gelede uitgereik het oor die toekoms van die uitsaaibedryf in Suid-Afrika.

Daarin word voorgestel die raamwerk waarbinne Suid-Afrikaners lisensiegelde vir die kyk van inhoud betaal, moet uitgebrei word om ook aanlyn stromingsdienste in te sluit asook ander platforms waarop inhoud gedeel word, soos YouTube.

Dit maak dit dus teoreties moontlik dat die staat kan vereis dat ’n lisensie bekom moet word om inhoud op ’n selfoon of skootrekenaar te kyk.

Die geld sal waarskynlik na die SAUK se koffers gaan soos die geval is met bestaande TV-lisensies.

Phumzile van Damme, DA-LP, het dadelik kapsie gemaak en gesê dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrikaners meer moet betaal om die SAUK te help red.

“Die publiek het reeds die gevolge gedra van die miljarde in reddingsboeie wat aan die SAUK uitbetaal is. Die publiek moet nie nog ’n sent meer betaal nie,” het sy aan die komitee gesê.

Die SAUK het vroeër aan Netwerk24 gesê die openbare uitsaaier beplan nie om lisensiegelde van kykers van stromingsdienste soos Netflix te verhaal nie.

Daar heers wel ’n mate van verwarring hieroor aangesien die SAUK waarskynlik bedoel het hy sal nie van platforms soos Netflix verwag om lisensiegelde namens hom in te vorder nie.

Die SAUK het MultiChoice reeds gevra om lisensiegeld namens hom van DStv-kykers te verhaal. MultiChoice het nog nie daartoe ingestem nie.

Die SAUK verhaal net sowat ’n kwart van sy lisensiegelde per jaar met lisensiehouers wat doodeenvoudig nie hul jaarlikse geld betaal nie.

Die departement stel ook voor dat internasionale stromingsdienste ’n tarief moet betaal om in Suid-Afrika sake te doen. Daardie geld sal na die Onafhanklike Kommunikasieowerheid gaan en nie die SAUK nie.

Die departement stel voor stromingsdienste wat nie aan dié vereiste voldoen nie, moet gekeer word om geld van Suid-Afrikaanse intekenare te ontvang.

Hy stel voor die banke moet opdrag kry om betalings van Suid-Afrikaanse kredietkaarte aan die maatskappye te stop of selfs om internetdiensverskaffers te vra om toegang tot die dienste se webtuiste te keer.

Daaroor het Van Damme ook kapsie gemaak en gesê dit gaan die regering “soos dié van China en Hongkong” maak waar inwoners gekeer word om aanlyn na sekere inhoud te kyk.

Die publiek het tot die einde vandeesmaand kans om insette te lewer oor die voorgestelde veranderinge. Die departement het tot dusver reeds meer as 20 000 kommentare en voorstelle ontvang.

Meer oor:  Netflix  |  Sauk  |  Tegnologie  |  Tv-Lisensie  |  Televisie  |  Staatsondernemings  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.